’n Inwoner van Malmesbury het danksy ’n tweede kans die lewe met albei hande aangegryp.
Nou is Bradley Arendse op pad na die Wêreldspele vir atlete wat orgaanoorplantings gehad het.
“As 38-jarige is ek nooit voorheen as ’n atleet van enige soort geklassifiseer nie. Die titel het eers ná my oorplanting in November 2019 en sewe jaar van dialise gekom,” het Arendse onlangs aan Weslander gesê. Hy het in Augustus meer vertel oor sy ervaring van ’n nieroorplanting as deel van Orgaanskenkings-maand (“Skenker-nier lei tot ’n nuwe lewe”, 25 Augustus 2022).
Ná sy oorplanting het Arendse seker gemaak hy doen alles in sy vermoë om fiks en gesond te bly. Hy het vier maande ná sy operasie die 109 km van die Kaapstad-fietstoer voltooi.
Hy het daarna geensins slapgelê nie en in Julie aan die nasionale oorplantingspele in Gqeberha deelgeneem. Hier het hy aan die 100 m- en 400 m-wedlope asook verspring deelgeneem, maar moes egter weens mediese redes aan die fietsren onttrek. “Ek is amptelik vir die span gekies en dit is met plesier en trots dat ek só kan sê,” verduidelik hy.
Nou werk Arendse hard om nie net vir die Spele fiks te bly nie, maar ook om die nodige geld vir die byeenkoms in te samel. Die eerste betaling vir registrasie vir die Spele moet aan die einde van die maand gedoen word, maar Arendse meen “dinge sal gebeur soos dit moet”. Mense wat Arendse finansieel wil ondersteun kan hom by 079 606 3688 kontak.. Besoek www.transplantsport.org.za vir nog inligting oor wat die Spele alles behels, en loer ook by www.odf.co.za hoe om as ’n orgaanskenker te registreer.





