Liewe Hemelse Vader, ons is u samoesas, bak ons maar! En as U besig is om ’n skaap op die spit te sit, wil ons net laat weet dat dit seker teen dié tyd al gaar is!

Hierdie is van die vlymskerp sêgoed wat mense die afgelope tyd op sosiale media deel om uiting te gee aan hul gevoelens oor die versengende hitte wat ons die afgelope tyd in die Wes-Kaap beet het.

Ek weet daar is dié van julle wat absoluut gek is oor die heerlike kookwarm somerweer. Ek nie. My hele wese protesteer nou maar eenmaal net teen die somerhitte – punt. Waardering vir die seisoene het ek wel, maar somer is gewis nie een van my gunsteling-seisoene nie. Gee my die nat koue weer in ons provinsie en ek gee daai ekstra huppel in my stap af. Ek meen maar, hier sit ek nou voor my rekenaar met ’n nat waslap op my nek. Die waaier langsaan probeer sy bes, maar met elke draai en swaai tref daai louwarm lug my en begin ek al meer twyfel of dit enigsins die moeite werd was dat ek die verdomde ding verlede jaar aangeskaf het. Die sweet tap my af, maar skryf, die moet ek skryf.

Laat ek nou maar nie op hierdie platform deel waar die sweet oral sy draaie maak nie. Daai deel laat ek aan jou verbeelding oor. Moet my ook nie oordeel as ek jou meedeel dat ek maar skraps geklee is hier waar ek sit nie. In my gunsteling-seisoen, winter, kan ek darem nog daai ekstra lagie klere aantrek om warm te bly, maar nou . . . hier in die privaatheid van my woonplek moet ek maar doen soos die meeste van ons hierdie tyd doen – speel die half-nudis in jou eie sepie! So erg was die hitte die afgelope tyd dat ek dit ernstig begin oorweeg het om my ou vriendelysie af te stof en daai groepie met die swembaddens en lugversorgers op te soek – mos lanklaas gesien en ’n strategiese drie tot vier ure kuier in en rondom die swembad en lugversorgde vertrek kan mos nie skade doen nie.

Dan is daar ook plan B, en dit is om jou dag (of ’n groot deel daarvan) iewers in ’n winkelsentrum deur te bring; dis nou te sê as jy die geld het, want hier herstel die meeste van ons dan nog van Januarie se swaarkry en noedels eet.

Natuurlik is daar die opsie om in daai winkelsentrum se winkels rond te drentel en met die oog na hartelus te koop. Ten minste kan jy darem hul “verniet aircon” geniet! Ek is nie jou ronddrentel- tipe ou nie, so dié plan sal vir my ook nie werk nie. As jy egter daai aircon-trippie mall toe gaan vat, koop tog net iewers vir jou ’n roomys of ’n botteltjie gegeurde water dat dit darem nie so sleg lyk nie. Onthou, deesdae ken die mense selfs julle uit wat net mall toe gaan vir daai maak-my-koel-ervaring, maar niks koop nie! Jy weet wie jy is!

En om alles te kroon, maak die hittegolwe hul verskyning hier in die maand van liefde. Die hitte sal vir seker nie ’n paar manne en manninne afskrik om nog ’n keer die liefde te laat blom nie. As dit egter so bitter warm is, sal jy dit seker maar nie met blomme moet sê nie. Sê dit dan eerder met ’n nuwe lugversorger vir die kamer. Los die waaier, want dit help nie veel nie . . . vra my maar! As die volgende hittegolf op Valentynsdag val, dan wil jy mos nie met al jou Valentynsgebeure met ’n beroerte agterna sit nie. So, hou alles koel of selfs koud as dit moet. Ek meen maar . . . die laaste ding wat ’n paartjie vir mekaar op Valentynsdag wil sê, is lê soontoe, dis warm!

O ja, as jy dan iewers heen moet gaan, dan wil ek jou maar vriendelik waarsku om tog maar weg te bly van die volgende plekke af – Springbok in die Noord-Kaap (hulle sê dis waar die hel sy oorsprong vandaan gekry het); Vredendal is tweede oppie lysie (daar kan jy sommer jou brekfis – wors en eiers – in die son gaar bak); vermy Worcester soos die pes (die tipe hitte wat jy daar gaan ervaar, sal veroorsaak dat jy spontaan in ’n skuldbelydenis-sessie sal ingaan vir jou sondes en vir genade smeek sodat dit net weer ’n bietjie koeler kan word).

Hellington – askies, ek bedoel Wellington – is nog ’n dorp wat geen genade skenk as dit by die uitdeel van hitte kom nie. Daar word dit so warm dat jy letterlik voel hoe ’n breinsel in jou kop verskroei.

Moet ook nie vir Malmesbury agterlaat nie. Ek lees die ander dag hoe iemand van daar vir sy vroulief ’n boodskappie op sosiale media stuur. Hy werk in die Kaap. Hy vra haar toe of dit wys sal wees om huis toe te kom en of hy maar eerder iewers in Gordonsbaai vir hom ’n oornagplekkie moet soek. Die kommentaar was oorweldigend. Bly daar, want hier by ons dit 43 °C!

Sterk staan, maters. Februarie het maar nog net begin!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article