Herstelwerk aan die strek van die Weskuspad (R27) tussen Velddrif en die kruising met die R45 (Vredenburg-Hopefield) gaan moontlik so gou as Vrydag 27 September afgehandel wees – mits die skade aan dié strek in die geraamde tyd herstel kan word.
Melchior Botes, woordvoerder vir die ministerie van infrastruktuur, het aan Weslander gesê die pad het ’n gedeelte wat die afgelope paar jaar talle kere probleme gegee het, ondanks etlike ingrypings deur die vorige roetine-padinstandhoudingskontrakteur en die departement se distrikspadingenieur.
“Ons kan nie voortgaan om dié deel van die pad met ’n hoë verkeerslading te herstel net om weke later (in sommige gevalle binne dae ná die herstel) weer herstelwerk te moet doen nie.
“Die rede vir die voortgesette mislukking van een spesifieke deel van die pad word nou ondersoek. Omdat dié gedeelte plat is, is daar aanduidings dat dit ’n kombinasie van faktore is wat swak ondergrondse materiaal soos klei en slik én twee seisoene van abnormaal hoë reënval insluit. Dit is waarskynlik hierdie kombinasie wat hierdie kwesbare deel van die pad negatief beïnvloed het.”
Die werk aan die pad sal insluit die uit-frees (of uitsny, milling out) van die bestaande, met bitumen behandelde “pleister” en die uitgrawing van die stuk pad tot op subgraadvlak (onder die plaveisellae) om die toestande en pad vorentoe te bepaal.
Volgens Botes is hul huidige aanname dat die oplossing die plasing van ’n baanbreker-rotslaag en ’n nuwe subbasislaag sal behels, gevolg deur ’n nuwe met bitumen behandelde laag van 100 mm.
Die soort padwerke is kompleks en omvattend en die departement het die spoed waarmee voertuie op die stuk pad ry én die volume van verkeer wat dit dra, in ag geneem en daarom besluit dit is die veiligste opsie om die pad vir sowat twee weke te sluit, sedert Maandag 16 September.
Botes benadruk dat dit dalk langer kan neem – dit hang af van wat gevind word sodra die uitgrawing voltooi is.
Terwyl die mees problematiese gedeelte slegs 30 m lank is, strek dit oor een volle baan en die helfte van die oorkantste baan, wat beteken dat daar nie gewerk kan word met verkeer nie.
Padgebruikers moet dus steeds van ’n ompad gebruik maak.
Gevra of die padwerke moontlike rammelstroke by die gevaarlike Hopefield-Vredenburg-kruising insluit, sê Botes tans word slegs die problematiese gedeelte van die pad permanent herstel en sluit dit geen bykomende werk in nie.
padmerke op mr559
Botes sê die departement is deeglik bewus daarvan dat alle padmerke ná die konstruksieprojek aan die Langebaan-Saldanhapad (MR559) nie ten volle voltooi is nie.
Die departement is tans besig met “kontraktuele prosesse” met die aangestelde kontrakteur en kon dus by navraag nie meer inligting oor die situasie met betrekking tot dié padmerke bekendmaak nie.
Botes verseker Weskus-inwoners egter dat die departement daartoe verbind bly om seker te maak dat alle padmerke voltooi word sodra die “kontraktuele prosesse” afgehandel is.
. Dié aanvanklike MR559-pad is in Mei 2012 seremonieel geopen, met Robin Carlisle, die destydse minister van paaie, Rosil Jager, die destydse burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, en Harold Cleophas, die destydse burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit, wat die lint oor die pad geknip het.





