Ons is amptelik oor die halfpadmerk vir die jaar, en reeds is die jaar tot op hede aan sy talle uitdagings en hartseer oomblikke geken. Beurtkrag het deel van ons daaglikse bestaan geword, en daarmee saam hou inflasie en daaglikse lewenskostes aan styg. Dit gesê, is dit dikwels so maklik om net in die onsmaaklike oomblikke vas te kyk en in die greep van negatiwiteit te verval.

Daar is ’n Engelse gesegde wat lui: “Don’ let a bad moment become a bad day.” Hoeveel keer laat ons nie toe dat een onaangename gesprek, afspraak of gebeurtenis in ’n dag ons gemoed vir die res van die dag bepaal nie. Jy loop egter dan die gevaar om die mooi in die lewe mis te kyk. Ongelukkig gebeur slegte dinge daar buite soos weekliks oor berig word. Ons kan ons nie blindstaar daarteen nie, want die oomblik dat ons dit doen, is dit so goed soos om te sê dat dit ons nie meer pla nie; ons is oukei daarmee.

Maar ten spyte van die slegte daar buite is daar soveel meer positiewe dinge om te aanskou en te waardeer as jou oog reg ingestel is. Daar is dié week weer talle stories van gemeenskapsopheffing en -ontwikkeling.

Só ook speel die Weskus vandeesweek gasheer wanneer die Netbal-wêreldbekertrofee Vrydag hier ’n draai kom maak en is ook die eindstreep van die jaarlikse Bergrivier-kanomarathon Saterdag, wat op sy beurt weer blootstelling en ekonomiese groei vir die streek opdis. Hanteer dus die struikelblokke soos dit kom, maar moenie toelaat dat dit die res van jou dag oorskadu nie. Soek die silwer randjie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article