Sistiese fibrose is by die jong Samuel Stiglingh gediagnoseer, maar hy laat hom nie onderkry nie.


Sistiese fibrose is op die ouderdom van 10 maande by Samuel Stiglingh gediagnoseer.

Dié diagnose is ná gereelde hospitaalbesoeke en talle toetse aan die Moorreesburgse ouerpaar Leesché en Jaco Stiglingh bevestig.

Sistiese fibrose is ’n seldsame genetiese siekte wat veral die longe aantas, maar ook die pankreas, lewer, niere en die derms. Langtermynkomplikasies sluit in moeilikheid met asemhaling en die ophoes van slym weens gereelde longontsteking.

Leesché vertel sy het ’n baie goeie swangerskap gehad en Samuel is op 38 weke gebore. “Ek het ’n wonderlike swangerskap gehad en het elke oomblik geniet en waardeer,” sê Leesché.

Samuel is ’n sesjarige seuntjie met ’n vriendelike persoonlikheid.

Op dié jong ouderdom het Samuel groot drome vir sy toekoms. Sy ma vertel hy wil graag boer en hy het ’n liefde vir musiek.

Finansieel en emosioneel het die diagnose sy tol van Leesché geëis. Aan die begin wou sy glad nie na enige video’s kyk of na gesprekke van mense wat hierdie siekte het, luister nie. “Ek was so bang vir die onbekende en wou alles weet – op my eie tyd en terme.”

Sistiese fibrose is ook nie geneesbaar nie, maar dit kan bestuur word. Tans is daar medikasie in Argentinië beskikbaar, maar om dit te kan bekom, het die gesin die hulp van die publiek nodig om geld bymekaar te kry. Leesché verduidelik dat ’n boksie medikasie R60 000 kos en Samuel het twee nodig wat dit na altesaam R120 000 bring, buiten hul premie wat ook gedek moet word, asook ander mediese kostes.

Om te help met hierdie kostes het Elmarie van Zyl, Leesché se tannie, nie gehuiwer om in te spring nie en dadelik ’n geldinsameling begin reël. Die geleentheid is in samewerking met die Malgas Lions-klub aangebied en het Vrydag 10 Mei in die NG kerk St. Helenabaai se kerksaal plaasgevind.

Volgens Van Zyl probeer sy altyd help waar sy kan, en omdat dit haar suster se kleinkind is, het sy nie twee keer gedink nie. “Die aand was ’n baie groot sukses en ons staan op R9 995 wins.”

Gelukstrekkings is gehou en lootjiekaartjies is verkoop. Gaste het met lekker pryse weggestap en het so terselfdertyd ’n verskil gemaak.

Van Zyl bedank almal wat die aand moontlik gemaak het asook die borge –SPAR St. Helenabaai, Jomar’s Corner, De Palm Lifestyle Centre, Die Seester Kombuis en Food Lover’s Market Weskus Mall.

Leesché sê dit is haar grootste droom om vir Samuel ’n beter gehalte lewe te kan gee.

“Die nuwe medikasie kan sy lewe verleng en die hulp van die publiek kan dit moontlik maak. Ons het nooit vir hulp gevra nie, maar iewers besef jy ’n mens kan dit nie op jou eie doen nie en het hulp nodig. Dit is vir jou kind.”

Indien jy jou hart wil oopmaak en Samuel wil help, kontak Leesché gerus by 072 148 5452.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article