My Oujaarsdag-trippie Weskus toe was ’n broodnodige een, want my laaste werkdag vir die jaar 2021 het letterlik die dag vantevore tot halt gekom.

My kop en lyf kon nie meer inneem nie, en al waarna my gees verlang het, was ’n bietjie rus by die see – dit is nou maar eenmaal die plek waar my hart en siel tot rus kan kom en ek weer tot verhaal kan kom.

Met my bagasie gepak en gelaai was dit nog net die petroltenk vol maak, die olievlak nog ’n keer laat nagaan en ’n paar eet- en drinkgoedjies vir die pad aanskaf.

En siedaar, my welverdiende wegbreek kon begin – geen gejaag, want my kop en hart wil alles inneem, waarneem en geniet. Die lekkerste van alles is dat ek vir ’n paar dae nie hoef te worry oor nog ’n spertyd wat wink nie.

Net voor Moorreesburg se ingang trek ek die eerste keer af en ondersteun die oom met die bakkie waatlemoene. Kan dalk net gepas kom vir die Nuwejaarsviering wat sy opwagting oor ’n paar uur sal maak.

Oral op pad na my eindbestemming sien ek vrolike gesigte en hoor ek vrolike stemme – almal in afwagting op ’n nuwe jaar wat hopelik beter as die vorige sal wees.

My afdraai by die pad wat koers kry Hopefield toe word begroet met mede-padgebruikers wat ook smag na ’n bietjie sand, see en rus. Daai eerste vars briesie wat my net voor Velddrif/Vredenburg begroet, bring ’n stille lafenis, want nie meer lank nie, dan sal Langebaan sy towerstaffie moet swaai. My honger na rus en vrede moet stil met sy unieke bekoring van Weskus-gasvryheid.

En, glo my – soos soveel kere in die verlede, het hy nie teleurgestel nie.

Aan huis van goeie vriende kon ek elke oggend en soms laat namiddag of vroegaand pendel tussen die huis en die bekoring van die see, sand en branders. Ek kon my moeë voete ’n rusplek in jou kristalhelder waters gee en soos ’n tevrede kind jou branders speels aandurf en pret hê. Jy het my die plek en ruimte gebied om net weer te wéés; my laat rustig word en net weer bevestig dat dit orraait is om net niks te doen of te dink nie; net die ou jaar se dinge en bedrywighede agter te laat en die sielstenk vol te maak vir ’n nuwe jaar vol verwagting en nuwe uitdagings.

My bonuspakkie is ook spesiaal vir my verpak met ’n fantastiese shôt-left-trippie na hartsplekkies in die Weskus waarby ek om die een of ander rede nog nie uitgekom het nie. Die eerste stop, Paternoster, wat maar altyd een van my gunsteling-kuier- en -loerplekkies sal wees. Weer eens het sy nie teruggehou met die uitdeel van loutere feesgetyvreugde nie. Pragtig opgetof in haar nuwe waterfront-uitrusting het sy geskitter en my ingenooi vir ’n feesmaal soos min.

Die kreefverkopers het ’n goeie seisoen beleef, die strand was vrolik geklee met baaiers wat hul jaarlikse koelte kom vang en die snoep-en-snuistery-winkeltjies het almal verwelkom met ’n ietsie van alles vir almal.

My volgende stop was Stompneusbaai – die een waar ek die eerste keer voet aan wal gesit het. Wat ’n stuk bekoring het jy my nie gebied nie – soveel só dat ek jou weer gaan besoek. Jy is die stukkie van ons mooi land en provinsie wat my opnuut laat besef het die veld lyk dalk groener aan die ander kant, maar ek sal jou bo daardie ander kant verkies.

Jou uitgestrekte strandkom is van die mooiste wat ek in ’n lang tyd gesien het. Jou waters bied ’n kalmte soos net jy dit kan bied. Jou waters en seemeeue het my lied van dankbaarheid beaam toe ek speels jou bekoring begin besing. Dit was ’n moeilike totsiens sê, want ek wou nog so graag meer van jou hê, proe, sien en ervaar. My wenslys vir die nuwe jaar is opgemaak, en glo my – jy is daarop!

St. Helenabaai was volgende.

Dis hier waar my vuurtjie vir nog vreugde uit die pen spontaan begin brand het. Ek het nodig om weer by jou te kom kuier. Jou kaai en die restaurant daarby moet ek weer kom besoek. Jy het sagkens saam met my geglimlag en in my oor gefluister dat jy soveel stories het om met my te deel. Jou hawe waar die skuite anker gooi, het my die ope uitnodiging gebied om volgende keer saam te gaan na die oop see en vir almal te vertel van die kwota snoek en harders wat die hart en mond van al sy mooi mense voed, en dat jy skaamteloos en met soveel vreugde kon meedeel van soveel meer liedjies wat oor jou geskryf kan word, laat my voete jeuk vir daai volgende kuier op jou kaai.

My skyfie soet waatlemoen uit die Swartland gemeng met die lafenis van ’n Weskus shôt-left het voorwaar die truuk gedoen. En met ’n huppel in my stap sien ek kans vir 2022!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article