Die eerste Shilton van Wyk-7’s-toernooi begin Saterdag 14 Desember. Foto: David van der Sandt


Spanne in en om die Weskus maak gereed vir die Shilton van Wyk-7’s-rugbytoernooi wat Saterdag by die Transnet-Saldanha-stadion afskop.

Met 24 manspanne wat deelneem, onder andere Langebaan-, Hopefield-, Mamre-, en Riebeeck United- rugbyklubs, is almal gereed om Saterdag (14 Desember) op die rugbyveld kragte te meet vir die prysgeld van R50 000 gedeel in drie afdelings. Die toernooi is in samewerking met Braventure Services op die been gebring en is ’n eerste van sy eie vir die kranige 24-jarige Shilton van Wyk van Saldanha.

Van Wyk sê die doel is om die toernooi as ’n spog-produk te vestig.

“Die toernooi beteken vir ons baie meer as net rugby – dit verskaf plesier, maar dra ook tot die Weskus se ekonomie by. Dit kweek ook ’n gevoel van eenheid en trots onder plaaslike inwoners, wat ’n gedeelde ervaring skep wat gemeenskapsbande versterk.”

Van Wyk is self by die Super 8-toernooi van 2018 ontdek en as Speler van die Toernooi aangewys. Hy deel met Weslander dat toernooie van dié aard geleenthede vir opkomende spelers skep. “Drome bly egter drome as ’n mens nie besef dat harde werk daarmee gepaardgaan nie. Almal het talent, maar almal moet besef dat die beste resep harde werk is,” voeg hy by.

Talentontwikkeling

Van Wyk is van mening dat die toernooi ’n platform vir plattelandse spelers bied om hul vaardighede ten toon te stel en moontlik op hoër vlakke erkenning te kry.

Bevordering van inklusiwiteit

“Om sport na landelike gebiede te bring, verseker gelyke geleenthede vir deelname en vermaak, wat die gaping tussen stedelike en landelike gemeenskappe oorbrug.”Jeugbetrokkenheid aangemoedig

“Dit inspireer jongmense om by sport betrokke te raak en bevorder gesondheid, dissipline en spanwerk.”

Kulturele uitruil

“Die gasheer van spanne uit verskillende streke moedig die uitruil van idees en kulture aan, wat die plaaslike gemeenskap verryk. So ’n gebeurtenis kan ’n blywende invloed op die streek laat.”

Besoekers aan die toernooi kan uitsien na samesyn en sportmanskap. Spelers van die Blitsbokke sal die toernooi bywoon, onder wie die plaaslike Donovan Don, Zain Davids, Tristan Leyds en Ronald Brown.

Die hekke open om 07:00. Kaartjies kos R30 vir volwassenes, R20 vir kinders van 7 tot 13 jaar en R10 vir parkering.

. Kontak Bertram Vraagom by 064 556 2424, Senobia Jassen by 079 676 2436 of Ivan Dwashu by 078 889 6093 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article