Sewe mense is lig beseer in twee motorongelukke in die Weskus die afgelope naweek.
Volgens West Coast Medical Rescue is vyf mense Sondagmiddag 13 Augustus vir matige beserings langs die R45 net buite Hopefield behandel nadat ’n voertuig weens ’n botsing op sy dak gekeer is.
Metro EMS Rescue en die Saldanha-brandweerdienste het hulp verleen.
Al die beseerdes is op die toneel behandel en daarna hospitaal toe geneem.
Saterdagnag moes dieselfde nooddienste ook reageer ná ’n botsing op die Saldanhapad net buite Vredenburg.
Twee beseerdes is op die toneel vir matige beserings behandel en na die hospitaal geneem.
Motoriste word versoek om – wanneer hulle die noodligte en voertuie langs die pad gewaar – die gebied met omsigtigheid te nader.





