’n Paartjie in Langebaan kon alles verloor het nadat hul woonwa langs hul huis aan die brand geslaan het. Danksy drie brawe seuns se vinnige reaksie het die brand egter nie ’n kans gestaan nie.
Die voorval het Saterdag 19 Maart in Langebaan plaasgevind.
Walt Sevenster, Wiehan Basson en Walter Langenhoven, al drie leerders aan die Hoërskool Hopefield, het ’n bol swart rook ’n straat weg van Sevenster se woning gesien en uit nuuskierigheid besluit om te gaan kyk wat aangaan.
Met hul aankoms by die huis waar die brand gewoed het, het die drie – sonder om twee keer te dink – in aksie oorgegaan om die vlamme geblus te kry.
Hul eerste instink was om ’n brandblusser in die hande te kry en te keer dat die huis ook aan die brand slaan. “Dit het gevoel asof ons in ’n fliek is; ons het net gewonder waar die kameras is,” vertel Sevenster met goeie humor.
Carol Macdonald, die eienaar van die huis, sê die brand het toe wel deur die venster van die motorhuis gekom, maar is gelukkig geblus met die blusser wat die seuns in die hande gekry het. Hulle het ook die beddens en beddegoed van een kamer, wat ook aan die brand kon slaan, verwyder. Ander inwoners het ook ingespring om die woonwa van die huis af weg te sleep.
“Hierdie drie seuns het ons huis gered en ek en my man is baie dankbaar vir hul verantwoordelike optrede en hulp,” sê Macdonald.
Volgens die seuns sal hulle nie huiwer om te help sou iemand hulle in ’n moeilike situasie bevind nie.
Macdonald is ook dankbaar dat hulle selfs bereid was om te help skoonmaak.


