Geen teken van misdaad.
Die sewejarige Eljay Wallen Meyer, wat verlede Dinsdag dood onder ’n boom aan die voet van die bekende Jesus-klip in Vredenburg gevind is, het hom heelwaarskynlik doodgeval.
Dít staan in die forensiese verslag wat die patologie-afdeling van Malmesbury Vrydag ná die lykskouing aan die Vredenburg-polisie uitgereik het.
Volgens die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Wayne Schierhout, wat Eljay se dood ondersoek en op 10 Junie die lykskouing bygewoon het, dui die aard van die oorlede seuntjie se beserings daarop dat hy “nie aangerand is nie”.
“Hy is ook nie gestoot of gestamp nie.”
Die verslag verduidelik Eljay se beserings regverdig nie dat hy van heel bo van die Jesus-klip af geval het nie, maar wel van ’n laer punt van die rots.
Schierhout het aan Weslander gesê ’n minderjarige ooggetuie het Eljay gesien val.
“ ’n Verklaring is reeds bekom, maar die getuie sal weer deur die polisie-sielkundige ondervra word. Geen misdaad word in hierdie stadium vermoed nie.”
Eljay het Sondag 5 Junie vermis geraak terwyl hy buite gespeel het. Gerugte het die ronde gedoen dat die seuntjie moontlik vermoor kon gewees het aangesien bebloede klere ’n entjie van die plek waar Eljay se lyk gelê het, gevind is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, word die bebloede klere ook ondersoek, maar tot nou is geen bewyse gevind dat hierdie klerevonds enigsins betrekking op Eljay se tragiese dood het nie.
Eljay is in die klere gevind wat hy aangehad het toe hy vermis geraak het.
Eljay se familie het sterk daaroor gevoel dat hy moontlik deur ’n boosdoener leed aangedoen is voordat hy dood is. . Lees ook die berig op bl. 2.




