’n Atletiekbyeenkoms by die Hoërskool Vredenburg het onsmaaklik geëindig nadat ’n leerder van die Hoërskool Weston ernstig beseer is.
Volgens die pa van die tiener is die 17-jarige deur ’n veiligheidswag van die Hoërskool Vredenburg met ’n hokkiestok aangerand. “Hy is op die skool se sportterrein aangeval en reeds van die terrein begelei toe hy buite die terrein verder geslaan en teen die kop geslaan is met ’n hokkiestok,” vertel die pa.
Die pa verduidelik dat die hou op die kop sy kind inmekaar laat sak het en niemand het dadelik tot sy hulp gekom nie.
“Hy het net daar gelê totdat iemand uiteindelik tot sy redding gekom het en die ambulans ontbied het. Dit is nie hoe ’n mens die situasie moes hanteer nie.”
Die tiener is na Vredenburg Provinsiale Hospitaal vervoer van waar hy toe later na Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas is vir verdere behandeling. Hy is toe weer oorgeplaas na New Somerset-hospitaal en weer terug oorgeplaas na Vredenburg Provinsiale Hospitaal waar hy verdere terapie ondergaan.
Volgens Unathi Booi, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het ’n groep leerders van ’n ander skool die skoolterrein betree en ’n stryery tussen leerders van die twee skole het uitgebreek.
“ ’n Veiligheidswag het tussenbeide getree en een van die leerders is beseer nadat hy na bewering met ’n hokkiestok oor die kop geslaan is wat na bewering by een van die leerders gekonfiskeer is. Die leerder is in die hospitaal opgeneem. Die distrik ondersoek die saak.”
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Vredenburg-polisie, sê ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer is Dinsdag 31 Januarie by Vredenburg-polisiekantoor geregistreer.
“Die dossier is geopen deur die pa van die slagoffer en hy beweer die voorval het op Vrydag 26 Januarie plaasgevind. Die speurgroepbevelvoerder sal nou duidelike instruksies aan die ondersoekbeampte gee om die saak binne ’n beperkte tydperk te finaliseer.”



