Hy het diep in die hart van baie mense ingekruip, vertel diegene wat Sandrihigo Boois geken het.
Dié negejarige leerder van Panorama Primêr is Donderdag (30 Junie) doodgesteek.
Volgens Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, was polisiebeamptes Vrydag 1 Julie omstreeks 00:39 op die toneel waar iemand in Boswewerstraat, Vredenburg, met ’n mes gesteek is.
Helfrich sê met die polisie se aankoms op die toneel is die slagoffer, ’n negejarige seun, reeds dood verklaar weens ’n meswond in die bors.
“Die oorledene se ma het hom na bewering na ’n winkel gestuur, waar hy in ’n bakleiery met ’n ander seun betrokke was. Die oorledene het die seun met ’n voorwerp in die arm gewond, waarop die seun hom met ’n mes gesteek en van die toneel af gevlug het.”
Sy voeg by ’n getuie, ook nege jaar oud, se weergawe is later bekom en ’n soektog na ’n 13-jarige verdagte het begin.
“Dié seun was egter daarvan bewus dat die polisie na hom soek, maar hy het Maandag (4 Julie) teruggekeer huis toe waar die polisie hom weens die moord in hegtenis geneem het. Die seun het Dinsdag (5 Julie) in die plaaslike hof verskyn,” het Helfrich bevestig.
Panorama Primêr het Dinsdag ter nagedagtenis aan Sandrihigo ’n troosdiens gehou waar leerders en ouers hul respek en eer aan Sandrihigo getoon het.
Tydens die diens is goeie herinneringe oor die seun gedeel.
Ouers is ook aangemoedig om daar te wees vir hul kinders en die leerders is gemaan om gehoorsaam te wees aan hul ouers.
Die sendeling Eileen Philander, wat deel geraak het van Sandrihigo se lewe vandat hy vier jaar oud is, sê hy het ’n groot invloed op haar lewe gehad en sy glo sy het op haar beurt ook ’n invloed op die seun se lewe gehad.
Sy het tydens die diens gesê sy het potensiaal in hom gesien en besluit om ’n pad met hom te stap. “Hoewel Sandrihigo se lewe kortgeknip is, het God hom en sy hart met al sy uitdagings in die lewe geken,” het Philander gesê.
Hylton Langly, Panorama Primêr se hoof, sê Sandrihigo was “ons woelwatertjie”, maar sal altyd onthou hoe verskriklik lief hy was om saam met sy maats te lag. “Ek gaan sy besoeke in die kantoor mis.”
Sandrihigo se ma, Sandra Boois, sê die huis gaan baie stil wees sonder hom en sy gaan hom vreeslik mis. “Ek gaan sy lag mis. Hy was sowaar my hart se punt,” vertel sy.
Sandrihigo se begrafnis vind op Sondag 10 Julie om 10:00 by die Vredenburg Assembly of God-kerk plaas.




