Die tweede botsing op die R27-R45-kruispad naby Vredenburg.Foto: West Coast Medical Rescue


’n Sestienjarige is Saterdagmiddag dood en ’n motorbestuurder ernstig beseer in ’n botsing op die R45 naby Malmesbury op die pad na Hopefield.

Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich ondersoek die polisie in Malmesbury ’n saak van strafbare manslag ná die ongeluk omstreeks 16:45. ’n Wit Volkswagen Golf het glo voor ’n wit Ford Focus ingery. Die 16-jarige Memela Chalatsi van die plaas Vyevlei naby Malmesbury is in die botsing dood en die 19-jarige bestuurder van die Golf het ernstige beserings opgedoen en sterk tans in die Tygerberg-hospitaal aan.

“Die presiese omstandighede waarin die ongeluk gebeur het, word nog ondersoek,” het Helfrich gesê.

Dié ongeluk het gevolg op ’n botsing verlede week tussen ’n vragmotor en ’n motor op die kruispad tussen die Weskuspad (R27) en die R45 na Hopefield, waarvan die foto op die voorblad van Weslander van Donderdag 28 September verskyn het.

’n Sesjarige meisie was een van drie beseerdes in dié botsing voorverlede Sondag (24 September). ’n Man (22) het volgens Roche Laws, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, arm- en gesigfrakture opgedoen en sterk tans in die Groote Schuur-hospitaal aan. ’n Vrou (41), wat ’n sleutelbeenfraktuur en ’n paar snywonde opgedoen het, en die sesjarige meisie, wat vir ligte beserings behandel is, is dieselfde dag nog ontslaan.

Volgens ooggetuies het die bestuurder van ’n rooi Volkswagen Golf laatmiddag die R27-R45-aansluiting oorgesteek en voor ’n aankomende vragmotor beland. Die vragmotorbestuurder, wat van Langebaan se kant af oor die bult aangekom het, het glo probeer om vir die Golf uit te swaai, maar kon dit nie betyds regkry nie. Die vragmotor het in die motor vasgery en dit ’n hele ent van die pad af die veld in gesleep.

Die koerant was egter Woensdagmiddag nog nie eens klaar gedruk nie toe nog ’n botsing op dieselfde plek gebeur het.

Elowayne Gouws, direkteur van West Coast Medical Rescue, het gesê twee bakkies het Woensdag 27 September om 17:41 by die kruispad gebots, maar niemand is beseer nie. Saldanhabaai-verkeersdienste en Metro EMS was ook teenwoordig.

Motoriste wat met die R45 óór die R27 moet ry, moet in gedagte hou dat die verkeer op die R27 in volle vaart beweeg en geen rede het om stadiger oor die bult by die kruispad te ry nie, aangesien geen toegeeteken of stopteken van enige aard vir die verkeer tussen die Weskus-eenstop en Velddrif is nie.

In nog ongelukke dié naweek het ’n motorfietsryer naby die ou Flamingo’s in Langebaan geval en ’n motor het voor die Weskus Mall op sy dak beland. Teen druktyd was verdere inligting nog nie beskikbaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article