Die 11-jarige Luka Strydom


’n Inwoner van Yzerfontein sukkel om sin te maak van die skielike dood van haar 11-jarige seun ná ’n fratsongeluk op ’n verjaardagpartytjie.

Eldré Strydom (49) sê dit is “ondenkbaar” dat haar enigste seun, Luka, dood is ná ’n “simpel val” en komplikasies tydens ’n daaropvolgende operasie.

Sy het Luka verlede Sondag na ’n maatjie se huis vir ’n verjaardagpartytjie gebring. In ’n stadium het hy aan sy ma gesê hy het seergekry.

Hy het blykbaar sy balans verloor en op ’n hoop braaihout geval.

’n Stuk hout het in sy laerug gesteek en volgens Strydom was dit ’n diep wond. Sy het hom dadelik hospitaal toe geneem.

“Die dokters wou nie ’n kans waag nie en het besluit om die wond onder narkose skoon te maak en toe te werk. Ek het teen 23:00 saam met hom teater toe gegaan en sy voorkoppie gesoen.

“Ná ’n uur het ’n dokter uitgekom en gesê daar was komplikasies, wat insluit dat Luka in die teater wakker geword het. Hy het vloeistof in sy longe gehad en sy hart het vir 10 of 15 minute gaan staan.”

Hulle kon hom bybring en het besluit om hom na die Rooikruis-kinderhospitaal oor te plaas, maar Strydom is gewaarsku dat hy dalk reeds breinskade opgedoen het.

Hy is Maandag omstreeks 02:00 na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem, maar daar het sy hart weer gaan staan. Hy is weer bygebring, maar sy longe, brein en hart het toe al ernstige skade opgedoen.

Sy hart het Maandag om 12:04 die laaste keer gaan staan.

“Dit is so ondenkbaar – ’n gesonde 11-jarige seuntjie. Ons het bloot ingegaan vir steke.”

Strydom sê sy en Luka se pa, Rohan Strydom (51), asook haar lewensmaat, Deon van Zyl, is gebroke.

Strydom was 37 toe Luka gebore is nadat borskanker op 31-jarige ouderdom by haar gediagnoseer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article