Die Saldanha-polisie is bekommerd oor die veiligheid van inwoners wat onwetend van hulself ’n maklike prooi vir rowers maak.
Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, is ses rooftogte die naweek van Vrydag 25 tot Maandag 28 November by die Saldanha-polisiekantoor aangemeld.
Die twee meer ernstige voorvalle uit die ses is ’n huisrooftog in Marikana, Middelpos, wat Sondag (26 November) plaasgevind het, en ’n rooftog by ’n huiswinkel Saterdag (25 November).
In die eersgenoemde rooftog in Marikana het ’n vrou skuins voor middernag in haar huis wakker geword weens ’n geslaan teen haar deur. Twee rowers, wat ’n vuurwapen by hulle gehad het, het uiteindelik daarin geslaag om die deur oop te dwing. Die huismense is gedreig en die rowers het met ’n televisie, selfoon en skootrekenaar gevlug.
Tydens die rooftog by die huiswinkel op 25 November om 01:45 is die deur ook oopgedwing en die slagoffer met ’n mes gedreig. Die rower het R9 500 se sigarette en sjokolade gebuit.
Benewens hierdie twee voorvalle behels die ander vier voorvalle selfone of ander persoonlike besittings wat uit voetgangers se hande geruk word of met ’n mate van geweld by hulle afgeneem word.
Kotze pleit by inwoners om liefs nie op ’n selfoon te loop en tik terwyl hulle iewers heen stap nie. Behalwe dat die rower ’n waardevolle item sien wat hy kan steel, sien hy ook dat die eienaar van die selfoon nie aandag aan die omgewing om hom gee nie.
Dus is hy ’n baie maklike prooi vir ’n rower.
“Wees oplettend, stap in groepe waar dit goed belig is en moenie met geld in die openbaar rondloop nie. Steek dit goed weg of, indien enigsins moontlik, moenie met groot bedrae geld in jou sak rondloop nie,” raai Kotze inwoners aan.
Kotze doen hierdie beroep op inwoners van Saldanha met die oog op die feestyd wat om die draai is en wanneer misdaad dikwels gedy.
“Ons vra ook dat almal wat vir die vakansie weggaan, die veiligheid by hul huise verskerp. Sakeondernemings moet seker maak al hul veiligheidsmaatreëls werk behoorlik voordat die feestyd aanbreek.”



