Ter illustrasie.

Rasaad Adams

’n Polisiesersant wat na bewering ’n man wat met ’n kurktrekker op hom afgestorm het, ses keer geskiet het, het in die Citrusdal-hof verskyn op aanklag van moord.

Volgens die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se persverklaring op X (voorheen Twitter) het dié eenheid Jasper Coetzee (38), ’n lid van die Weskus-blitspatrollie, vroeër in hegtenis geneem.

Coetzee is in hegtenis geneem nadat ’n ondersoek na die saak getoon het dat daar nie op die dag van Justin Zivengwa se dood, 28 Desember 2022, ’n sakeroof plaasgevind het nie.

Dit blyk dat daar ten tyde van die voorval beweer is dat polisiebeamptes van Citrusdal en die blitspatrollie op ’n moontlike sakerooftog by die Top Dog Liquor-winkel gereageer het.

“Zivengwa het glo in die bestuurder se kantoor gesit en drink. Volgens polisiebeamptes het Zivengwa na bewering aggressief geraak en hulle met ’n kurktrekker bestorm. Coetzee het Zivengwa na bewering verskeie kere geskiet.

Die kantoor van die direkteur van openbare vervolging het opdrag gegee dat Coetzee van moord aangekla word.

Coetzee is op borgtog van R1 000 vrygelaat en moet Donderdag 14 Maart weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article