Donker onheilswolke pak in die komende weke saam oor Ruiterbosch , die fiktiewe woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel.

Die afgelope paar weke het sterk winde van verandering deur Suidooster gewaai toe Marco Spaumer, wat die skarminkel Tim du Plooy vertolk het, die sepie gegroet het en kykers ’n nuwe akteur, Daniel Coetzee, as Riaan Vosloo, ontmoet het.

Nou, met die koms van die Kaapse winter, word stormsterkte drama vir Suidooster voorspel.

Volgens die sepie se publisi­teits­bestuurder, Wilmer Müller, kan kykers ’n paar spannende storielyne verwag. Müller sê een van die kinkels wat aanhangers na hul sneesdoekies gaan laat gryp, is die nuus oor Ty Daniels (Maurice Paige). “Hy het verdwyn nadat ’n breingewas by hom gediagnoseer is. Dit is besig om ’n groot tol van sy gesin te eis, want dit lyk of dié eens hegte gesin se fondasies besig is om in duie te stort.”

Volgens Dean Smith, wat die rol van Ty se broer Wade Daniels vertolk, wag daar nog groot skokke op die Daniels-gesin.

“Nie net begin Carlo (Jadon Booysen) rebelleer nie, maar Wade en sy skoonsuster Lee-Ann (Portia Joel) begin lelik verskil oor die pad vorentoe, tot waar hulle ’n onverwagte oproep kry wat hulle weer ’n bietjie hoop gee,” sê Smith.

“Hierdie tonele was op ’n goeie manier uitdagend vir ons akteurs, want daar is soveel verskillende emosies wat in die storielyn aangewakker word, terwyl ander karaktereienskappe van Wade, Lee-Ann en Carlo vir die eerste keer na vore tree.”

Nóg ’n groot storielyn, wat pas begin het, betrek die geliefde Sam­sodien-familie, wat ’n nuwe krisis in die gesig staar, sê Müller.

Jawaahier Petersen se karakter, Kaashifa Samsodien, het pas ’n borsrekonstruksie ondergaan nadat sy borskanker oorwin het. Hoewel die operasie suksesvol was, verloor Kaashifa haar reuk- en smaaksintuie.

Petersen sê die newe-effekte wat Kaashifa ondervind, is “onverklaarbaar”. “Dit is geweldig frustrerend vir Kaashifa, wat ’n sjef is en in die proses is om ’n tweede restaurant oop te maak, om skielik nie te kan proe of ruik nie. Sy begin oorhaastige besluite oor haar toekoms neem sonder om haar man, Rhafiek (Irshaad Ally), daarin te ken. Boonop gee sy Rhafiek al die blaam, want sy voel dat hy te veel druk op haar geplaas het om die operasie te ondergaan, en dit lei tot spanning in hul huwelik,” sê Petersen.

“Met die mat wat onder Kaashifa uitgeruk word, onder­gaan sy ’n soort persoonlikheids­verandering en sien kykers ’n kant van haar wat hulle gaan stom slaan. Tog moet ’n mens onthou dat Kaashifa eintlik al deur baie trauma en hartseer in haar lewe is, en dalk nog nooit werklik alles verwerk het nie,” verduidelik Petersen.

’n Ander opwindende storielyn wat later in Junie begin en kykers lekker warm onder die boordjie gaan hê, handel oor ’n nuwe glyjakkals.

Donovan Pietersen, wat kykNET-kykers sal herken vir sy rolle in Spoorloos: Steynhof en Getroud met Rugby, gaan nou as Texas Kannemeyer in Suidooster moles maak.

“Texas gaan dadelik ’n opskudding in Ruiterbosch veroorsaak wanneer hy ’n nuwe onderneming in die Suidooster-sentrum op die been wil bring. Maar die vraag is of sy vuil wasgoed betyds uitgehang gaan word,” voeg Müller by.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article