Die Harbour of Wellness-sentrum se groentetuin verlede jaar. Foto:


Die groentetuin wat gehelp het om die kliënte van Harbour of Wellness te voed, is verniel nadat vandale dit in die vakansietyd bygekom het.

Die Harbour of Wellness in Saldanha, langs die White City-veeldoelige sentrum, bied programme en inisiatiewe aan vir mense met gestremdhede. Saam maak hulle handwerkartikels en leer nuwe vaardighede en verlede jaar het sommige lede selfs aan ’n branderplank-geleentheid deelgeneem.

Personeel van die sentrum het egter ’n droewige begin van die jaar gehad toe hul veiligheidsmaatskappy laat weet het daar is groot fout.

Volgens Marlene Don, bestuurder van die sentrum, is die omheining van die sentrum se groentetuin die naweek van 8 en 9 Januarie weggedra. Die groentetuine is verlede jaar begin en danksy die groen-inisiatief is die sentrum se inkopielys ’n bietjie korter gemaak. “Ons het die departement van landbou vir hulp gevra om die voedselsekerheid van ons lede te versterk. Die nuwe draad wat die departement geskenk het, is weggedra en ’n week daarna is die nette van die kweekhuis ook gesteel,” het Don gesê.

Blomkool, beet, uie, wortels en sitrusvrugte was net van die oes wat die tuin reeds opgelewer het.

Die sentrum het die afgelope paar jaar erg onder diewe deurgeloop. In Oktober 2022 alleen is twee keer in dié maand ingebreek en sowat R75 000 se toerusting is gesteel.

Don meen dit is hartseer om te sien dat mense vanuit die gemeenskap die sentrum, wat van die kwesbaarste mense in Saldanha dien, besteel. “Hierdie is ’n plek waar kwesbares byeenkom om te leer, veilig te voel en liefde ontvang. Die sentrum behoort aan almal van ons in Saldanha en ons moet daarna omsien. Wat het geword van sosiale samehorigheid en eienaarskap?” het die span in ’n plasing op sy Facebookblad gevra.

Don deel die sentiment en sê die gemeenskap moet eienaarskap van sy bronne neem en meer doen om na mekaar om te sien. Sy sê maatreëls om veiligheid by die sentrum te verskerp, het ook nie veel gehelp nie aangesien die veiligheidskameras gesteel is en die veiligheidsensors ook al weggedra is.

Die sentrum open weer Maandag sy deure vir lede.

Enigeen wat kan help met skenkings of infrastruktuur kan die sentrum by 022 714 4579 skakel of e-pos stuur na hello@howpd.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article