Die Harbour of Wellness-sentrum is in chaos gedompel ná die jongste inbraak.Foto:


Vier keer het die span van Harbour of Wellness in die oggend by hul sentrum gekom net om te sien hoe hul werksplek deur die nag geplunder is.

Die sentrum in Saldanha, langs die White City-veeldoelige sentrum, het die afgelope twee maande reeds vier keer onder booswigte deurgeloop. Die jongste voorval was Vrydagnag (21 Oktober), vermoedelik omstreeks 04:00.

Volgens Marlene Don, sentrumbestuurder, is die span raadop. Sy verduidelik wat die saak nog meer frustrerend maak is dat die sentrum van ’n sekuriteitsfirma gebruik maak. “Hier is niks oor nie. Die telefoonstelsel is weg, die WiFi-toerusting is gesteel en die plek is deurmekaar,” verduidelik Don.

Harbour of Wellness bedien 47 kliënte met verskeie gestremdhede. Die sentrum hou die kliënte daagliks besig met gespesialiseerde programme. “Vir die aflope twee weke wat die kliënte sonder ’n televisie is was hulle bietjie moeilik. Die rekenaar wat ons vir administratiewe doeleindes gebruik is ook gesteel wat beteken die inligting wat ons daagliks gebruik is weg,” verduidelik Don. Sy meen net om die inligting weer te versamel is ’n massiewe taak.

Om die toerusting te vervang sal ook duisende rande beloop gesien die televisie wat op ’n vorige geleentheid gesteel is, alleenlik meer as R9 000 beloop.

Saldanha-polisie maan inwoners byna weekliks dat inbrake een van die grootste misdrywe in die dorp is, veral in die dorpsgebied.

Enigeen wat kan help met skenkings kan Don by 062 860 6020 kontak. “Dit sal baie waardeer word,” sê Don.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article