Verskeie Weskussers is die afgelope tyd gewelddadig in hul eie woonplekke aangeval en van hul selfone beroof.
’n 21-jarige vrou is Donderdag 1 Augustus omstreeks 12:00 deur ’n onbekende man in haar huis in Panoramastraat, Saldanha, oorval.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het die rower deur die badkamervenster toegang tot die huis verkry. Hy het die vrou se selfoon geëis en daarmee gevlug.
Twee rowers het Sondag (4 Augustus) omstreeks 03:40 die deur van ’n huis in Ongegund, Vredenburg, oopgedwing. Die 27-jarige inwoner en sy meisie het geslaap toe gemaskerde rowers hulle skielik oorval en met ’n skerp lig verblind het. Hulle is ook met pepersproei gespuit. Die een rower het hulle met ’n vuurwapen gedreig waarna hy en sy makkers met die man se Samsung A3-selfoon gevlug het.
Omstreeks 04:20 dieselfde oggend is by die polisie aangemeld dat vyf rowers die deur van ’n huis in Strandloperstraat, Witteklip, oopgeskop het.
Die 45-jarige man en sy vrou en kind het nog geslaap toe die mans inkom en hulle begin aanrand en een rower hulle met ’n vuurwapen gedreig het.
’n Ander rower het die man met ’n mes in sy regterhand gesteek. Die rowers het met ’n Vivo V25-selfoon gevlug.
Die Vredenburg-polisie ondersoek klagtes van gewapende roof.

