Die Saldanha-sakevrou, wat die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) na bewering bedrieg het om ’n reuse-sekuriteitstender los te slaan, het vandeesweek die eerste keer in die Bellville-handelshof verskyn.
Wanda McCarthy (49), die hoofdirekteur van Securimed Response, wat handel dryf as Crime Force, staan tereg op aanklagte van bedrog van meer as R26 miljoen.
McCarthy is in Julie vanjaar in hegtenis geneem in verband met ’n tender om sekuriteitsdienste vir drie jaar aan die SBM te verskaf.
Volgens Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is sy steeds op borgtog van R20 000 vry, maar die hof het gelas dat sy met geen SBM-amptenaar in verbinding mag tree nie.
Ntabazalila het gesê McCarthy se maatskappy het van 2018 tot 2021 dag-en-nag-sekuriteitsdienste aan die munisipaliteit in Hopefield, St. Helenabaai, Paternoster, Vredenburg, Saldanhabaai en Langebaan verskaf.
Die staat beweer dat sy egter tydens die tenderproses bedrog gepleeg het deur wanvoorstellings te doen om die tender, wat ’n goedgekeurde begroting van R30,9 miljoen gehad het, te verkry.
Sy het onder meer in die tenderaansoek glo gejok oor die hoeveelheid sekuriteitswagte wat sy in diens gehad het, oor hulle kwalifikasies en of hulle by die Private Sekuriteitsbedryf se Regulerende Owerheid (Psira) gesertifiseer is.
Haar maatskappy het blykbaar ook voorgegee dat Securimed ’n geregistreerde vloot voertuie gehad het.
Volgens Ntabazalila het McCarthy tenderdokumente in 2018 voltooi en onderteken, en reeds in Januarie 2019 die sekuriteitsdienste begin verskaf.
Die toekenning van die bod aan Securimed Response/Crime Force is eers op 24 Januarie 2019 amptelik gepubliseer.
Ntabazalila het gesê twee ontevrede bieërs het teen die toekenning van die tender geappelleer, maar die SBM het glo volgehou dat die tender regmatig toegeken is.
Die bedrog het na vore gekom vanweë ’n fluitjieblaser wat beweerde onreëlmatighede in die tendertoekenning by die presidensiële blitslyn aangemeld het. Die spesiale ondersoekeenheid, ’n onafhanklike statutêre liggaam, het die klagte verder ondersoek en bevind dat McCarthy verskeie wanvoorstellings gemaak het.
Die munisipaliteit het die tender op 30 Maart 2020 beëindig nadat R13,8 miljoen reeds vir gelewerde dienste betaal is.
Die staat voer aan dat die beskuldigde se optrede beide onregmatig en opsetlik was.
Die saak gaan op 20 Oktober in die Bellville-handelshof voort. Uitstel is verleen vir die verdediging om te konsulteer.


