Hofdokumente is Vrydag amptelik ingedien om seismiese toetsing aan die Weskus te keer.

The Green Connection, ’n omgewingsorganisasie sonder winsoogmerk, het Maandag (23 Januarie) amptelik sy steun agter plaaslike vissers en ander teenstanders van die beplande seismiese toetse geplaas.

Die aansoek om ’n dringende interdik, wat by die Kaapse hooggeregshof ingedien is, volg omdat Searcher Seismic van Australië gas en olie aan die Weskus soek. Die maatskappy het moontlik reeds Sondag met seismiese toetse vir dié hulpbronne begin.

The Green Connection meen die gebied waar Searcher die seismiese toetse wil doen, het ’n ryk en produktiewe ekostelsel wat van groot belang vir die visbedryf is.

“Net so belangrik is die integrale rol van dié deel van die oseaan in die lewensbestaan van kleinskaalse vissers langs die kus,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.

“Dit is vir ons as ’n organisasie, wat in die eko-geregtigheidsruimte werk, kommerwekkend dat die departement blykbaar nie in staat is om ons oseane en omgewing veilig te hou nie – veral in die lig van die toenemende klimaatkrisis.

“Waarom blyk dit wat die departement wil hê, die regte van kusgemeenskappe troef, terwyl die publiek se breër omgewingsregte blykbaar geïgnoreer word?” het The Green Connection in sy verklaring laat hoor.

Intussen sê Masifundise, ’n organisasie wat hom vir vissersregte beywer, ’n brief is aan die maatskappy sowel as die minister van energie gestuur om die toetswerk te keer. Vissers meen hulle is nie gekonsulteer oor die toetse nie en glo hul bestaan uit visvang sal onder die toetse ly.

Die Burger het Dinsdag berig Searcher Seismic het moontlik reeds met die seismiese toetse begin.

Jan Arkert, ’n geoloog van die Southern Faith Communities’ Environmental Institute, het aan die dagblad gesê Searcher se toetsvaartuig, M/V BGP Pioneer, is Sondagmiddag sowat 113 km wes van Kaapstad en Maandag wes van Saldanhabaai gesien. Searcher Seis­mic wou nie kommentaar op hul navrae lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article