Murphy Roberts
Hamiltons SP (Seepunt) is die nuwe Saldanha- Super 8-Paastoernooi-
kampioen.
Hamiltons het Maandag (21 April) in die eindstryd die Northern Rhinos met 36-12 gelooi. Hamiltons het die toernooi met ‘n goeie oorwinning oor Tygerberg begin en daarna was daar eenvoudig geen keer aan die span nie. Hammies, soos die oudste klub in Suid- Afrika bekendstaan, het in die tweede ronde die voormalige Boland-kampioen Worcester Villagers behoorlik vir hul plek in die eindstryd afgeransel en die wedstryd gemaklik met 55-5 gewen. Rhinos, van Limpopo, het ook sy plek in die eindstryd verseker met ‘n 46-12-oorwinning oor Blanco.
Villagers het egter op dag een die gasheer, Saldanha, in ‘n naelbyter 43-40 geklop. Die gasheer het een van sy swakste vertonings by die toernooi gelewer en kon slegs een wedstryd wen om in die sewende plek te eindig.
Tygerberg het ook Saterdag verdere sout in die gasheer se wonde gevryf toe hulle maklik met 43-26 baas was oor Saldanha.
Tygerberg het met sy 32-31-oorwinning oor Evergreens in die vyfde plek geëindig. Villagers het vierde geëindig toe die span in sy uitspeelwedstryd Maandag 23-40 teen Blanco United verloor het.
Die stryd om die titel was egter eenrigtingverkeer vir Hammies in die tweede helfte. Hammies het ten spyte van weerstand van die Rhinos gewys hoekom hy een van die top-klubs in WP is en het ook die winderige toestande beter tot sy voordeel gebruik. Rhinos moes in die tweede helfte die meeste van die verdediging doen terwyl die kampioenspan die een aanval ná die ander van stapel gestuur het.
Die toernooi het op die laaste dag ‘n groot finansiële inspuiting vir volgende jaar gekry. Gayton Mckenzie, die minister van sport, kuns en kultuur, het tydens rustyd in ‘n onderhoud met Supersport gesê sy departement gaan volgende jaar R1 miljoen tot die toernooi bydra. Die minister het die organiseerders geprys vir die goed gereelde toernooi en sê dit kan net beter en beter word. Die toernooi bied ook jong spelers die geleentheid om ‘n indruk te maak, het die minister gesê.
“Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sal gewis dié toernooi moet bywoon omdat hy dalk talent hier kan ontdek,” het die minister afgesluit.








