Werkers van die Shell-maatskappy en sy ondernemingsvennote het onlangs saam met die SLR Consulting-omgewingsevalueringspraktisyn ’n Weskustoer onderneem om plaaslike gemeenskappe in te lig oor die voorgestelde verkenningsboorwerk in die oseaan wes van die Weskus.
SLR het tot einde November verskeie opedae gehou om plaaslike gemeenskappe soos Paternoster ’n oorsig te gee oor die projekvoorstel en bevindings van die omgewings- en sosiale impakbeoordelingsproses (Esia).
Volgens GP Kriel, omgewingskonsultant by SLR, strek die voorgestelde projekgebied van ongeveer 300 km van die kus van Port Nolloth af suid langs die westelike kuslyn, ongeveer 5 254 km² groot. Die water daar is sowat 2 500 m tot 3 200 m diep.
Die departement van minerale- hulpbronne en energie (DMHE) besluit op grond van die verslae of Shell sal kan voortgaan om te boor. Shell hou tans die verkenningsreg vir die lisensieblok “Northern Cape Ultra Deep (NCUD)” en indien omgewingsmagtiging toegestaan word, sal booraktiwiteite na verwagting in 2026 of 2027 begin.
Eers moet voorboor-opnames sowat twee maande lank gedoen word om basislyntoestande te evalueer en om potensiële seebodem- en onderseebodem-gevare te identifiseer.
Hoewel SLR se verslag gebeurlikheidsplanne vir elke moontlike risiko insluit, kán dit mariene ekostelsels beskadig en visvanggebiede, aflandige en kus-omgewings beïnvloed indien byvoorbeeld ’n grootskaalse oliestorting sou plaasvind.
Die voorboor-opnames sluit in die gebruik van sonar (klankpulse wat na die seebodem gestuur word), seebodem-monsterneming en afstandbeheerde voertuigaktiwiteite soos ’n semi-dompelbare booreenheid of boorskip toegerus vir diepwater mariene-omgewings.
Vyf verkennings- en ander boorgate gaan geboor word, wat ná die tyd verseël sal word.
Die veiligheidsone van 500 m wat rondom die booreenheid afgedwing moet word, sal beteken dat skeepsvaartuie hul roetes sal moet verander.
Ander risiko’s met die voor-booropnames wat die konsepverslag uitwys, is die gebruik van laevlak- radioaktiewe gereedskap wat kan lei tot die vrystelling van radioaktiewe materiale met versmoring en toksiese uitwerkings op dierelewe, veral bentiese fauna.
Daar kan ook moontlik oliegebaseerde hidrouliese vloeistof, sement, water en skoonmaakmiddels in die water beland.
Verskeie vaartuie gaan gebruik word om toerusting en materiaal tussen die booreenheid en die ondersteuningsbasis te verskuif en bystanddienste te verskaf. Helikopters sal personeel vervoer en ander ondersteuning verskaf van ’n basis óf in Alexanderbaai en Kleinzee in Suid-Afrika óf in Oranjemund in Namibië.
Kriel het gesê daar sal ongeveer elke 28 dae rotasie van personeel wees vir die duur van die projek, met ’n geskatte ses helikoptervlugte per week tussen die booreenheid en ondersteuningsbasis.
Die primêre logistieke basis sal moontlik in Saldanha of Kaapstad wees.
Kriel het verduidelik walvisse soos lang- en kortvin-loodwalvisse, spermwalvisse, boggelrugwalvisse, sei-walvisse, vin-walvisse en dolfyne beweeg deur die voorgestelde projekgebied wat in die geïdentifiseerde kritieke biodiverse gebied in die Benguelastroom-mariene-ekostelsel geleë is. Makrofauna soos bentiese garnale en krappe, ’n belangrike voedselbron vir kommersieel waardevolle visspesies in die voorgestelde projekgebied, kan moontlik versteur word. Variëteite van hondevisse, kathaaie, drilvisse, vals-doringrug-rog en chimaera is in die projekgebied geïdentifiseer, asook groot trekspesies soos verskeie tuna, snawelvisse en pelagiese haaie.
Die booraktiwiteite, geraasvrystellings en roetine-storting in die see kan die seebodem versteur, habitatte verander, onderwatergeraas skep en indringerspesies inbring wat die seelewe kan versteur. Die onderwatergeraas kan ook lei tot fisieke beserings (permanent of tydelik), steurings en gedragsveranderings.
Die voorgestelde aktiwiteite kan ook negatiewe impakte op kommersiële en plaaslike visvangaktiwiteite hê as gevolg van veranderings in visgedrag, vermindering in vangkoerse en ’n potensiële toename in visvangpogings. Die verwagting is dat visvangbedrywighede vir tuna en haaispesies binne en om die voorgestelde gebied beïnvloed sal word.
Die konsep-Esia-verslag is beskikbaar tot Vrydag 13 Desember vir openbare hersiening en kommentaar oor enige aspek van die voorgestelde projek en die potensiële impakte en bevindings.
. Kry meer besonderhede by www.slrconsulting.com/afr/public-documents/shell-ncud/
. Bykomende bron: Natural Justice



