VREDENBURG – Dit is ‘n groot eer vir Caden Snyders van Laerskool Panorama om aan vanjaar se Cravenweek deel te neem.

Snyders is in die Boland o.13 Cravenweek-span opgemeen wat vandag (Maandag 29 Junie) hul wedstryde in Bloemfontein afskop.

Hylton Langley, skoolhoof van Laerskool Panorama, meen Snyders se prestasie is die resultaat van volgehoue toewyding, dissipline en ‘n sterk werksetiek. Snyders was reeds verlede jaar deel van die Boland Rugby o.12-span en het sedertdien merkbare groei in sy spel, ingesteldheid en leierskap getoon.

Caden Snyders (middel) saam met sy afrigters Gustav Job (links) en Elmore Bailey (regs).
Caden Snyders (middel) saam met sy afrigters Gustav Job (links) en Elmore Bailey (regs).

“Sy bereidwilligheid om hard te werk, te leer uit elke oefensessie en wedstryd, en om altyd sy beste vir die span te gee, het hom weer ’n welverdiende plek in die Cravenweek-span besorg.

“As skoolgemeenskap sien ons Caden as ’n voorbeeld vir ander leerders – iemand wat wys dat deursettingsvermoë, respek en passie vir die sport groot hoogtes kan bereik. Ons is besonder trots op jou prestasie en die manier waarop jy Panorama Primêr verteenwoordig, op en van die veld af,” voeg Langley by.

Volgens Snyders is hy baie trots op hierdie prestasie en bedank almal wat in hom glo en ondersteun. Hy meen op hierdie reis gaan hy almal trots maak.

Sy twee afrigters Elmore Bailey en Gustav Job is ook baie trots op dié jongman. “Caden se insluiting in die Boland o.13 Cravenweekspan is die resultaat van jare se harde werk, dissipline en toewyding. Hy is ’n talentvolle rugbyspeler en ook ’n nederige en ‘n respekvolle spanmaat,” vertel Job.

Bailey voeg by en sê ná Snyders se deelname aan die Boland o.12-span verlede jaar het hy merkbare groei in sy spel, ingesteldheid en leierskap getoon. “Sy woorde vroeër in die jaar aan my was, ‘Meneer, ek wil die jaar die Cravenweek-span haal’. Hierdie geleentheid is werklik welverdiend. Dis ‘n droom wat waar geword het en ons is baie trots en diep geroer oor Caden se prestasie.”

Die skool en gemeenskap wens Snyders alles van die beste toe.

Mag jy elke geleentheid met selfvertroue aangryp en weet dat jy die volle ondersteuning van jou familie, jou skool en jou ondersteuners agter jou het. Ons glo jy sal jouself, jou familie en Panorama Primêr trots maak,” voeg Langley by.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article