Heinrich Mettler (Saldanhabaai-munisipale bestuurder), Cris v.d. Walt (Amoeba TSC), burgemeester André Truter, ??, Tanya Lourens (Zoom Fibre) ??? en Waldo Julius (dorpsingenieur) en Cornell de Kock (direkteur van ekonomiese ontwikkeling en strategiese dienste). Foto: Yaël Malgas


Die Saldanhabaai-munisipaliteit se planne om Suid-Afrika se eerste Smart City te word, het Donderdag nog ’n hupstoot gekry met die bekendstelling van die munisipaliteit se eie toepassing.

Die munisipaliteit is nou besig om vesel-internetkabels in al sewe sy dorpe aan te bring. Die doel van die sogenaamde Baobab-projek is dat elke inwoner toegang tot die internet het.

“Installering van die infrastruktuur in Vredenburg en Langebaan is byna voltooi, werk in Saldanha is voltooi en die ander dorpe sal binnekort volg,” het Cornell de Kock, direkteur van ekonomiese ontwikkeling en strategiese dienste, verduidelik.

Die koste van die Baobab-projek word hoofsaaklik deur Amoeba TSC en Zoom Fibre gedra. Zoom Fibre is verantwoordelik vir die infrastruktuur en sal die netwerk bestuur, terwyl Amoeba TSC die Smart City saam met dié maatskappy en die munisipaliteit opstel. Amoeba TSC en die munisipaliteit is ook vir die Digital Citizen-toepassing verantwoordelik.

Die burgemeester, André Truter, het gesê die toep se bekendstelling is ’n geskiedkundige geleentheid. Hy het egter vinnig bygevoeg inwoners se toegang tot die munisipaliteit via die toep is nie ’n plaasvervanger vir die menslike element van die munisipaliteit nie.

Inwoners sal van 1 Julie af die Digital Citizen-toep kan gebruik om onder meer hul munisipale rekeninge te betaal, munisipale klagtes aan te meld en elektrisiteit te koop.

Truter het bygevoeg ontwikkelings soos die Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone en die beweging na afstandwerk as gevolg van die Covid-pandemie maak dit die ideale tyd vir die munisipaliteit om sy idee van internetverskaffing as ’n bykomende munisipale diens in werking te stel.

Mireille Wenger, die LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het die munisipaliteit gelukwens met die “innovering om munisipale dienste na die hande van inwoners” te bring.

Hoewel die toepassing in hierdie stadium slegs in Engels beskikbaar is, het die munisipaliteit beloof om te kyk of dit in addisionele tale beskikbaar gemaak kan word.

Sessies sal ook gehou word om inwoners van die toepassing te vergewis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article