Inwoners in die Saldanhabaai-munisipale gebied is stomgeslaan oor hul hoë munisipale krag- en waterrekeninge.
Inwoners het aan Weslander vertel hulle was aan die einde van September erg geskok toe hulle hul munisipale rekeninge ontvang en gesien het dit het met tussen R800 en R2 000 gestyg. Een inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan Weslander vertel die meeste verbruikers wat geraak is en van wie hy weet, is pensioentrekkers wat juis nie geld het om sulke hoë rekeninge te betaal nie. “Dit is belaglik,” sê hy.
Ná vele besoeke en oproepe aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) sê die inwoner hy en ander inwoners het nog geen terugvoering of verduideliking ontvang nie wat frustrerend is.
Hy sê baie mense met wie hy gepraat het, kan nie verstaan hoekom hul rekeninge so hoog is nie.
Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die SBM, verduidelik dat ’n munisipaliteit se boekjaar op 1 Julie begin en op 30 Junie die volgende jaar eindig.
“Die huidige munisipale boekjaar het dus Vrydag 1 Julie 2022 begin en sal op 30 Junie 2023 eindig. Die 2022-’23-boekjaar se begroting en tariewe is op 31 Mei 2022 reeds deur die munisipale raad goedgekeur. Aangesien elektrisiteitstariefverhogings deur Nersa voorgeskryf word, moet die raad dit dienooreenkomstig implementeer. Die nuwe tariewe het dus Vrydag 1 Julie 2022 in werking getree.”
Lawrence voeg by inwoners het ’n meerderheid van kWh-eenhede van Augustus 2022 tot September 2022 ervaar.
“Fisieke lesings word op ’n maandelikse grondslag gedoen, dus kan die toename in die rekeninge van Augustus 2022 tot September 2022 toegeskryf word aan werklike elektrisiteitsverbruik.”
Iets wat nie vir inwoners sinvol is nie, is hoe hulle meer kWh-eenhede kon gebruik het as hulle dan soveel beurtkrag in Augustus en September ervaar het.
Inwoners sê hulle eis antwoorde by die SBM en kan nie met die hoë tariewe byhou nie.
Inwoners wat wil, kan hul waterlesings per WhatsApp aan die SBM stuur by 072 012 3279.

