Twee amptenare in die Saldanhabaai-munisipaliteit se boubeheerdepartement is geskors.


Twee amptenare in die Saldanhabaai-munisipaliteit se boubeheerdeparte­ment is geskors en word deur tugstappe in die gesig gestaar omdat hulle in hul private hoedanig­heid bouplanne sonder die nodige toestemming van die munisipaliteit teen betaling geteken het.

Volgens Ethne Lawrence, ’n munisipale woordvoerder, het die twee boubeheerbeamptes die bouplanne in hul hoedanigheid as geregistreerde tekenaars geteken.

Die tugstappe handel ook oor opdragte en wetgewing wat bouregulasies betref wat nie nagekom is nie.

Die ondersoek na die oortredings is volgens Lawrence in November 2023 begin en albei is vandeesmaand geskors. Die een se tugverhoor is afgehandel, terwyl die ander se verhoor in die finale stadium van die proses is.

Teen druktyd was dit nog nie duidelik wat die uiteinde van die een boubeheerbeampte se verhoor was nie.

Op ’n vraag of stappe ook teen die twee se direkte hoofde oorweeg word, het Lawrence gesê sy het tot dusver nog geen inligting uit die ondersoek of verhore wat aandui dat ander munisipale werkers ook aangekla moet word nie.

Sy het wel benadruk dat amptenare nie by magte is om self bouplanne goed te keur nie.

Volgens Lawrence geld die bouplanne wat die twee geteken het steeds, omdat dit ingedien is deur mense wat by die Suid-Afrikaanse Raad vir die Argitektoniese Beroep (Sacap) geregistreer is omdat hulle aan die vereistes voldoen.

Al die goedgekeurde planne geld dus steeds, tensy dit weens ’n spesifieke aansoek en gepaardgaande hofaansoek ter syde gestel word.

Volgens ’n ingeligte in die argiteksberoep staan Sacap wel aan bouplan-ondersoekers registrasienommers toe, maar dit gee hulle slegs die reg om bouplanne te ondersoek; nie om dit te teken nie.

Die munisipaliteit oorweeg op die oomblik geen strafregtelike aanklagte nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article