Die 2022-oesjaar oortref alle verwagtinge vir Suid-Afrika se topverkoper-kultivar.
Sauvignon Blanc Suid-Afrika het die 20 finaliste in die 2022 FNB Sauvignon Blanc SA Top-10-kompetisie aangekondig – en nie minder nie as 13 van die aanspraakmakers is van die 2022-oesjaar.
Vanjaar se top-20-wyne kom van uiteenlopende wynstreke, wat weer eens innovasie en diversiteit in die styl en oorsprong van sauvignon blanc in Suid-Afrika bevestig. Heelwat streke het meer as een finalis opgelewer.
Altesaam 102 produsente het 161 wyne ingeskryf vir hierdie kompetisie wat sedert 2007 die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie is wat uitsluitlik aan sauvignon blanc toegewy is. Dit word met die ondersteuning van die Top-10-titelvennoot FNB en die platinumvennoot EVER Solutions aangebied.
’n Paneel vooraanstaande wynkenners het vanjaar se kompetisie beoordeel met die Kaapse wynmeester, dr. Winifred Bowman, as sameroeper. Saam met Bowman op die paneel, was wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, wynmaker Morgan Steyn van De Grendel, Kaapse wynmeester René Groenewald asook ’n protégé-beoordelaar, Mahalia Kotjane, assistentwynmaker van Lievland.
Die Top-10 word Donderdag 13 Oktober tydens die FNB Sauvignon Blanc SA Top-10-toekenningsgeleentheid by FNB Portside asook op die webwerf www.sauvignonblanc.com en op sosiale media aangekondig.





