Nadat ’n rekordgetal – 152 – Suid-Afrikaanse sauvignon Blanc-wyne in die onlangse Concours Mondial du Sauvignon meegeding het, kan produsente nou in die jaarlikse FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10-kompetisiehul slag wys.
Inskrywings is nou oop vir die kultivargroep sauvignon blanc SA se 17de weergawe van hierdie eksklusiewe kompetisie vir Suid-Afrika se topverkoper- en mees uitgevoerde variëteit, wat in 2022 ’n indrukwekkende 14,3 miljoen liter plaaslik verkoop en 67,7 miljoen liter uitgevoer het. Die kompetisie se sukses is te danke aan vennootskappe met die titelvennoot FNB en die platinumvennoot EVER SA.
’n Paneel vooraanstaande wynspesialiste, onder leiding van die Kaapse wynmeester dr. Winifred Bowman, sal die aanspraakmakers van Dinsdag 29 Augustus tot Donderdag 31 Augustus by die Uitkyk-landgoed in Stellenbosch beoordeel. Saam met dr. Bowman op die paneel is die wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, Johann Fourie (hoofwynmaker van Benguela Cove), die wynmaker Morgan Steyn van De Grendel, Greg Mutambe (hoof-sommelier by Rust en Vrede-restaurant), asook twee protégé-beoordelaars.
Twintig finaliste sal in September aangekondig word, terwyl die wenners in Oktober by die gesogte FNB- Sauvignon Blanc SA Top-10-prysuitdelingseremonie aangekondig sal word.
Sauvignon Blanc SA se voorsitter, RJ Botha, koester hoë verwagtinge van die 2023-kompetisie.
“Ons wynmakers het besonder goed gevaar in die onlangse Concours Mondial du Sauvignon,” sê Botha.
“Uit die 152 wyne wat deur Suid-Afrikaanse produsente ingeskryf is, is ’n derde met medaljes bekroon, naamlik 26 goue en 30 silwermedaljes. Die Villiera Bush Vine 2022 is met die Tonnellerie Sylvain-trofee vir die beste gehoute wyn vereer en Darling Cellars se Gustus Sauvignon Blanc 2020 het die Revelation South Africa-trofee gewen.”
Botha sê die wêreld het hoë agting vir Suid-Afrikaanse sauvignon blanc en sy merkwaardige diversiteit.
“Die FNB- Sauvignon Blanc SA Top-10 verteenwoordig elke jaar ’n groot verskeidenheid in oorsprong en styl, met uiteenlopende geurprofiele. Beide gehoute en ongehoute wyne presteer werklik goed. Dit is ook belangrik dat die oesjaar op die etiket nie ’n vervaldatum is nie. Sauvignon blanc-entoesiaste kan dus gerus ouer oesjare ook ’n kans gee.”
. Produsente kan aanlyn by sauvignonblanc.com/top10-entry/ inskryf. Die sperdatum is Dinsdag 15 Augustus met laat inskrywings wat tot 23 Augustus 2023 aanvaar word.
. Vir meer inligting, besoek www.sauvignonblanc.com of kontak Sauvignon Blanc SA by 082 808 1114 of info@sauvignonblanc.com





