Die Emmy-benoemde akteur en Sama-benoemde musikant Neil Sandilands het in April bevestig hy en sy orkes (Schalk Joubert, Frank Freeman & Ronan Skillen) onderneem hierdie winter weer ’n landwye toer.

Soos belowe, is al die reëlings reeds getref, die venues is bevestig en die gehore het nou onmiddellike toegang tot die toerprogram, asook kaartjieskakels vir dié gewigtige gebeurtenis. Die toer strek oor 40 dae en 40 nagte en gehore kan uitsien na 35 vertonings in die uithoeke van die land.

Sandilands het uit Los Angeles, waar hy aan die première van Kingdom of the Planet of the Apes deelgeneem het, laat blyk die Land en Sand-toer in sy land van herkoms dra vir hom gelyke waarde as só ’n internasionale première.

Die toer begin Donderdag 27 Junie by Die Ou Meul-teater in die Paarl en sluit Sondag 4 Augustus by The Alma Café in Kaapstad af. Een vertoning word vir Sondag 30 Junie by Die Koelkamers in Paternoster beplan.

Sandilands bedank Hyundai Suid-Afrika, wat optree as vervoerborg van hierdie tamaai onderneming, asook al die venues wat betrokke is.

“Dit bly vir my ’n voorreg om in hierdie soetste taal te kan werk skep,” voeg hy by.

Die musikale werke kom uit Sandilands se bekende albums Sangoma Sandilands en Jou Pa se Posse, Allegaarkie vir ’n Askeet, Die Groot 5, Die Groot Niks, asook nuwe werke wat nog nooit opgeneem is nie.

“Dit sal die eerste keer wees dat ek splinternuwe liedjies sing voor dit op ’n album verskyn. Dis baie opwindend. Dis die lekkerste ding wat jy vir jouself hierdie winter kan doen.

“Bederf jouself tydens ’n aand van Neil Sandilands en Die Band dan gesels ons ‘land en sand’,” terg hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article