Die akteurs in Gesin: Elton Lesch, Mogamat Julius (skrywer), Amanda Lesch, Megan Fortuin, Cameron Cupido, Charice Villet, Cedric Villet, Aubin de Wet en Joy Lakabane. Foto: G.A.B. Photography


Produksie en teater is sy passie, vertel ’n Saldanhabaaier wat gekies is om sy droom te gaan uitleef.

Mogamat Julius is pas gekies om in September aan die International Arts Talent Showcase in Johannesburg te gaan deelneem. Hier gaan hy voor verskeie talentkenners optree vir die kans om deel te wees van die International Modeling and Talent Association, wat in New York gaan plaasvind.

Julius moet met die oog hierop geld vir sy registrasie insamel en het besluit om sy eie plaaslike produksie, getiteld Gesin, te skryf.

Volgens Julius is die inspirasie agter Gesin sy ma, die liefde en omgee van moeders, die sterk vroue in sy lewe en die rol wat hulle gespeel het.

Die toneelstuk was Vrydag 27 Mei in Vredenburg op die planke. Dit fokus op ’n gesin van vier waar dinge nie altyd in hul guns werk nie, maar nietemin laat hulle dit nie hul onderkry nie. “Dit gaan oor die ondersteuning en liefde wat hulle vir mekaar bied en die ma wat alles vir haar gesin doen,” vertel Julius.

Die karakters in die toneelstuk is almal van die Weskus en Julius is dankbaar dat hulle ingestem het om hom te help om hierdie stuk ’n werklikheid te maak.

“Ek sien myself verder gaan – nie net met teater nie, maar flieks, sepies en my eie produksiemaatskappy. Sodoende kan ek amateur-akteurs soos myself help en die kans gee om hulself te bewys. Ek wil die teater gebruik om almal te wys daar is ’n plekkie vir hulle.”

Julius sê hy wil mense se stories vertel en hulle inspireer en het groot drome vir sy toekoms.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article