Die Saldanha-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld teen Young Hamiltons van Ceres gespeel en die rillerstryd 26-21 op die Saldanha Transnet-stadion gewen.
Die tuisspan was teen rustyd 12-7 voor nadat hy reeds in die eerste paar minute ná ’n dryfmaal- beweging vir ’n drie oorgeval het om 5-0 voor te loop. Die eerste 40 min is gekenmerk deur ongedissiplineerde spel deur al twee spanne en vyf geelkaarte – Saldanha twee en Hammies drie – is uitgedeel.
Saldanha, wat ná sy eerste drie die meeste van die tyd moes keer, het nie teleurgestel nie en die besoekers kon ten spyte van meer balbesit en gebiedsvoordeel nie die oorhand kry nie.
Saldanha, die Boland-kampioen, het die min kanse wat die besoekers hom gebied het, beter gebruik en sodoende sy voorsprong vergroot nadat hy ’n verdoelde drie aangeteken het.
Hammies het egter koelkop gebly en die een agterlyn-beweging na die ander afgestuur.
Die tuisspan kon nie al die gate toestop nie, maar is beloon met ’n verdoelde drie (telling 12-7; wat ook die rustydtelling was).
Die tweede helfte sal seker nog lank ’n besprekingspunt wees.
Die tuisspan moes die eerste 10 minute net verdedig nadat die besoekers hom tot die uiterste beproef het sonder om bes te gee. Saldanha het daarna egter die krane behoorlik oopgedraai en gou ’n voorsprong van 19 punte gekry danksy twee verdoelde drieë.
Wat toe na ’n maklike oorwinning vir die kampioenspan gelyk het, het egter byna in ’n nagmerrie ontaard. Hammies het in die laaste kwart van die wedstryd die stadion stil gespeel en twee verdoelde drieë behaal om sy agterstand tot net vyf punte te verklein. Saldanha het egter in die laaste vyf minute van die wedstryd gewys hoekom hy die Boland-kampioen is toe die span koel en kalm onder druk gebly en die besoekers van ’n oorwinning weerhou het.
Hammies het in dié tyd die tuisspan in sy kwartgebied vasgepen, maar desperate keerwerk van die tuisspan het die oorwinning verseker. Ander uitslae: Laingville 46-5 Koringberg; Mamre 38-29 Vredenburg; Darling 29-31 Robertson Town; Wesbank 24-27 Hamlet WP; en Langebaan 22-17 Steenberg’s Cove.




