Die eerste wedstryde van die Boland-Grootuitdaagbeker se top-12-kompetisie is die afgelope naweek gespeel en het vir heelwat aksie gesorg.
Die Weskus-spanne, Saldanha en St. Helenabaai, sal sekerlik op Saterdag se uitslae wil verbeter. In die Swartland het St. Helenabaai teen Wesbank vasgeval. Met net vier punte verskil in die eindtelling het Wesbank die titaniese kragmeting met 41-37 gewen.
Saldanha, voormalige Grootuitdaag-wenners, sal vinnig die gelykopstryd met Darling agter hulle wil sit. Die eindtelling was 16 elk toe die eindfluitjie Saterdag in Saldanha geblaas is.
Die res van die top-12-spanne se uitslae was: Hawston 31-12 Roses United, Rangers Robertson 39-36 Citrusdal, Caledon 26-11 Delicious NW en Bella Vista 20-22 Montagu-klub.
Komende Saterdag reis Saldanha na Montagu en die manne van die Agterbaai sal die span van Hawston ontvang.




