Om ’n ma te wees en terselfdertyd ’n verpleegster, is ’n groot eer vir Kayla Maart.
Terwyl moeders wêreldwyd vandag (12 Mei) gevier word, herdenk die dag ook die onbaatsugtige werk van verpleegsters. Volgens Maart, ‘n Saldanha-inwoner, beteken die twee rolle wat sy vertolk baie vir haar. Kayla is die ma van ’n vyfjarige dogtertjie Khiaan. “Dis wonderlik om ’n ma te wees vir my pragtige, unieke dogtertjie. Sy bring soveel liefde en vreugde aan almal met wie sy in aanraking kom. Veral met die situasie in ons dorp, streek en in ons land wat betref die geweld teen ons kinders en ons vrouens, maak dit vir my soveel meer sin om ’n moeder te wees wat my kind net veilig wil hou en koester teen die geweld,” vertel Maart.
Sy is tans ’n verpleegster by ’n plaaslike kliniek. In haar rol as verpleegster sê Maart dit gee vir haar soveel plesier om vir kliënte ’n goeie diens te lewer. “Partykeer kry ek terugvoering vanaf my pasiënte net om dankie te sê en dit laat my goed voel om te weet dat ek ’n verskil kon maak in hul daaglikse omstandighede.”
Volgens Maart is verpleegsters belangrik in die samelewing omdat hulle beskou word as die ruggraat van die samelewing, “juis omdat daar soveel tekort is aan spesialiste in die mediese beroepe. Die eed wat ons aflê is vir my van uiterse belang omdat dit my aanspoor om beter te wil doen wanneer ’n pasiënt voor my verskyn.”
Baie van die gebeure en lesse as verpleegster pas Maart ook toe in haar rol as ma. Sy deel dat ’n verpleegster moet toegerus wees met die volgende eienskappe; eerlikheid, lojaliteit, geduld en om veiligheid te bied vir pasiënte, wat alle moeders in die samelewing vir hulle kinders ook moet kan gee. “Maar die een eienskap wat uitstaan wanneer dit kom by albei rolle is empatie.”
Hoe balanseer sy die twee rolle? Vir Maart is dit maklik, want haar beroep werk sy met kinders van alle ouderdomme op ’n daaglikse basis, maar by die huis kry Khiaan al die ekstra aandag waarna hul altwee altyd baie uitsien.
Sy bemoedig alle mammas dat hulle uniek en spesiaal is vir die samelewing. “Ons probeer ons beste te gee vir ons kinders ongeag die omstandighede rondom ons. Opgee is nie ‘n opsie nie, want ons kinders kyk op na ons vir die nodige leiding.”




