Die verhoogde produksie van skulpvis in Saldanhabaai sal gewis ’n groter impak op die omgewing hê.
Die akwakultuur-bestuurskomitee (AMC) vir die Saldanhabaai akwakultuur-ontwikkelingsone (SBADZ) sê egter in sy jongste jaarverslag verbeterde infrastruktuur, doelbewuste skoonmaakpogings, volgehoue monitering en die samewerking van die skulpvisboere self kan die omgewingsimpak verminder.
Die AMC het pas sy jaarlikse vorderingsverslag aan die departement van omgewing, bosbou se visserye (Deff) voorgelê. Die doel van hierdie verslag, wat deur die AMC se voorsitter Ferdie Endeman onderskryf en onderteken is, is om terugvoering te gee oor die vordering wat van Januarie tot Desember 2022 gemaak is. Volgens hierdie verslag is daar op 18 Augustus verlede jaar besluit om die toegelate produksiedrempel van skulpvis (oesters, mossels en ander) in Saldanhabaai van 10 000 ton per jaar tot 12 500 ton per jaar te verhoog.
’n Taakspan is saamgestel om die infrastruktuur- en bewaringsbehoeftes vir die verhoogde produksie te bepaal.
Verskeie vergaderings is met die mossel- en oesterboere gehou en nadat die boere se versoeke oorweeg is, het die AMC op 24 November besluit om die produksiedrempel verder tot 15 000 ton per jaar te verhoog om die toekomstige ekonomiese volhoubaarheid van die plase te verseker. Die verhoogde produksie en nuutbeplande infrastruktuur beteken dat die monitering van strande en opruiming van akwakultuurrommel deur die boere en moniteringspanne met nuwe ywer aangepak moet word. Rommel breek dikwels van mosselvlotte weg, veral in gure weersomstandighede, en besoedel die strande. Volgens die jaarverslag van die AMC het die medevoorsitter van die Tweekleppigeskulpvis-vereniging van Suid-Afrika (BSASA) die skoonmaakpogings van die bedryf op ’n vergadering in Mei 2022 voorgelê.
Sedert September verlede jaar verskaf die bedryf afvalinsamelingsdata aan die AMC as bewys dat die boere hul deel doen om op te ruim. Volgens die jaarverslag kan die dataverslae in sekere gebiede nog verbeter word.
Die omgewingskonsultant Anchor Environmental sê in sy Februarie 2023-moniteringsverslag die ADZ het ’n punt van 87% behaal vir voldoening aan wetsvereistes vir die oudittydperk van Februarie 2023. Die ADZ se punt bly onveranderd in vergelyking met Januarie 2023.
Volgens hierdie moniteringsverslag het die ADZ egter ’n hoë ouditstandaard (80%) oor die afgelope jaar gehandhaaf.
“Die bestuurspan en boere moet geprys word,” aldus die omgewingskonsultant.
Die AMC se jaarverslag en die omgewingskonsultant se maandverslae kan op sbwqft.org.za besigtig word.


