Terrance Ackers
Die Saldanha Tigers-rugbyvoetbalklub het in twee seisoene van ‘n sukkelende klub tot die
Boland-rugbyunie se Swartwes-streeks-
uitdaagkampioene herrys.
Die A- sowel as die B-span is vanjaar aan die einde van die seisoen as kampioene gekroon – ‘n prestasie wat die klub nog nooit voorheen te beurt geval het nie.
Volgens Heinrich Koopman, die klubvoorsitter, bring die klub met dié sukses hoop na die Diazville-gemeenskap, wat onder dwelms, drankmisbruik en geweld gebuk gaan.
Die bestuur het by die jaargadering in Januarie 2024 ‘n visie daargestel dat die klub in 2026 tot die Grootuitdaag-kompetisie van die Boland-rugbyunie gepromoveer word. Dit was ‘n groot droom, want daar was destyds nie eens genoeg spelers nie. Koopman het die leisels in April 2024 as voorsitter oorgeneem nadat die klub amper sy deure gesluit het. Hy het besluit die klub se ryke geskiedenis maak dat die deure nie gesluit kan word nie en hy het borge genader om met vervoer te help.
Volgens Koopman is gesprekke gevoer met die Landbou-, voedsel-, visvang- en kleinhandelbedryfwerkersunie (Afriwu), wat die klub daarna met vervoer bygestaan het. “Dié hulp van die vakbond het gehelp dat die klub kon opstaan. Borge was moeilik om te bekom omrede die meeste maatskappye onder die indruk is daar is slegs een rugbyklub in die dorp.”
Die Saldanha Tigers-trein het stadig maar seker die stasie begin verlaat. Die eerste ronde van die 2024-seisoen het weens min spelers maar moeilik begin. Aan die einde van die eerste ronde het die klub die negende posisie op die punteleer beklee.
Oudspelers van die Saldanhabaai-rugbyklub, soos Tiaan “Jam” van Wyk, Vernon “Ai” Losper, Revaldo “Bakkies” Barends, Ronaldo “Sening” Brown en
Nicholas “Domkrag” de Beer het besluit om hul gewig te kom ingooi.
In die tweede ronde het dit beter gegaan en die A-span het nege van hul tien wedstryde gewen. Aan die einde van die 2024-seisoen het die klub vierde op die punteleer geëindig – gelyk met die Koringberg-rugbyvoetbalklub. Destyds was die afrigters Shan-dean Koopman en Jaydee Coetzee, ‘n oud-Saldanhabaai-speler. Coetzee het ten spyte van ‘n ernstige enkelbesering sy kennis met die spelers kom deel. Die twee jong afrigters het in dié tyd ook hul Vlak 1-afrigtingsertifikate bekom.
Die bestuur, afrigters, die spelers en die klub se aanhangers het die visie sien vorm aanneem en die klub het in November 2024 vir die eerste keer in baie jare ‘n prys- uitdeling gehou met Dimitri Jacobs, die voorsitter van die suksesvolle
Safcol-rugbyvoetbalklub van Botrivier in die Caledon-distrik, as gasspreker.
Met die aanbreek van die 2025-seisoen is truie en T-hemde vir die spelers danksy die West Coast Community Trust asook Green Vigo aangeskaf.
In vooraf vriendskaplike wedstryde aan die begin van die 2025-seisoen teen die rugbyklubs van Langebaan, Coronations, Steenberg’s Cove en Barbarians van die Kaapse Vlakte het die klub hom teen die ander klubs gemeet en dinge het goed verloop. Die Saldanha Tigers het net nael-
skraaps teen Langebaan verloor.
Die gefokusde klubbestuur bestaan nou benewens Koopman (voorsitter) uit Christo Titus (sekretaris) en Terrance Ackers (uitvoerende hoof).
Op die rugbyveld het die spelers die erns van die klub se visie ter harte geneem.
Coetzee het die hoofafrigter geword terwyl Trevor Pieterse, die oud-afrigter van Saldanhabaai en Vredenburg, Robbie Welman en Jonathan Manuel, ‘n welsyn-
werker en die klub se “kopdokter”, met die afrigting kom handjie bysit het.
Die span het sukses begin behaal en opkomende spelers het die hand vir die A-span opgesteek. Jong spelers soos Geowaan Martin, Juwayne Prins, Jemile Fisher, Juan Blaauw, Ashwill Basson, Tyrone Horn en Caleb van Wyk het hul stempel begin afdruk.
Die klubbestuur het hard agter die skerms gewerk, nog borge genader en plaaslike sakelui in Diazville het belangstelling begin toon om saam met Koopman om ‘n tafel te sit. “Baie deure het toegebly, maar alle eer aan onse Hemelse Vader vir die deure wat Hy wel vir ons oopgemaak het,” het Koopman gesê.
Bereidwilliges wie se name vandag op die spanklere pronk, is onder andere Christo de Bruyn-prokureurs, Lange Steyn, Esau van Rooyen, Elvin Weimers en Louis Abdol.
Ná die kroning as streeksuitdaagkam- pioene fokus die klub nou op sukses in die komende Super 16-reeks, wat op 11 Oktober 2026 afskop. Borge wat belangstel om betrokke te raak, kan Koopman by
076 040 6203 bel.






