Saldanha Tigers het Saterdag die Young Tigers van Darling op hul tuisveld in ’n streekuitdaagkompetisie van die Boland-rugbyunie met 25-10 geklop.

Die wedstryd is in gure weersomstandighede gespeel, met reënbuie wat aanhoudend geval het.

Die span van Saldanha het eerste bloed geruik toe sy losskakel, Marco Abrahams, met ’n strafskop geslaag het (telling van 3-0).

Young Tigers het verwoed aangeval, maar deurkomkans was daar min. Saldanha se Potgieter het oorgeval vir ’n verdoelde drie en die telling was 10-0. Die tuisspan se heelagter, Steve Dirks, het met ’n strafskop geslaag, wat die rustydtelling op 10-3 te staan gebring het.

Ná rustyd het die span van die Weskus die krane behoorlik oopgedraai en die tuisspan se verdediging getoets. Die besoekers se nr. 8, Devril “the Beast” Julius, het oorgeduik vir sy span se tweede onverdoelde drie (telling 15-3).

Die Weskussers se skrumwerk was baie beter en hulle het hulle behoorlik laat geld. Marco Abrahams het hierna nog ’n strafskop oorgeklits (telling 18-3).

Young Tigers het by tye verwoed aangeval en tot die besoekers se doellyn gevorder. Hanteerfoute het hulle egter verhinder om dit in punte om te skep.

Vito Tities, ’n slot van die besoekers, het sy span se derde drie gedruk, wat deur Abrahams verdoel is vir ’n telling van 25-3.

In die doodsnikke van die wedstryd het die tuisspan se Pat Philander (stut) oorgeval vir ’n drie, wat deur Dirks verdoel is, met die telling 25-10.

Uitblinkers aan die kant van Young Tigers was Glenville Baadjies (skrumskakel), Cambell Mckidd (stut) en hul kaptein en agsteman, Elick Witbooi.

Saldanha Tigers se uitblinkers was Nathan Wewers (senter), JR September (stut) en Devrill “the Beast” Julius (agtsteman).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article