Met die Boland-grootuitdaagbeker-reeks wat nou einde se kant toe staan en slegs vyf punte wat die voorste drie spanne skei, gaan een span krokodiltrane stort.
Langebaan het Saterdag op sy tuisveld teen die Boland-kampioen byna die wa deur die drif getrek, maar die besoekers het vasgebyt en die wedstryd 17-21 gewen nadat Saldanha rustyd 21-5 voor was.
Die tuisspan het die tweede helfte geesdriftig aangepak en die besoekers tot die uiterste beproef. Langebaan het die agterstand stelselmatig laat krimp, maar die Saldanhabaaiers het vasgebyt en met die wil-om-te-wen gees kon die kampioen wys wie is baas.
St. Helenabaai se Albatrosse het ook hoog gevlieg ná die span se 41-5-oorwinning oor Paternoster in die Agterbaai. Vredenburg, wat die Piketberg Renosters in dié se agterplaas moes troef om hul kanse lewend te hou, het ook nie teleurgestel nie en die stryd 27-15 gewen. Die komende naweek sal egter ’n meer duidelike prentjie skets van wie gaan gly en wie gaan bly.
Saldanha en die Burg Boys pak mekaar in Saldanha in ’n wedstryd wat albei spanne moet wen. As Vredenburg ’n bonuspunt-oorwinning behaal sonder dat die kampioen ’n punt uit die wedstryd kry, sal hy op die punteleer gelyk met Saldanha wees en hoop Young Hearts kan die Agterbaaiers op die grafkelder kelder.
St. Helenabaai sal egter die grafkelder-spook moet begrawe en hoop die derby in Saldanha eindig gelykop sodat hy weer die eerste plek op die punteleer kan inneem. Ruben Abels en sy troepe kan nie meer die uitspeelronde haal nie, maar kan ’n rol speel in een span se ondergang aangesien Saldanha ook nog in sy laaste ligawedstryd op die grafkelder moet speel.
Die uitspeelrondes sal ná die laaste wedstryde bepaal word en die drie spanne wat reeds met een voet in die uitspeelronde staan, sal vir seker die laaste tyd met een oog oop moet slaap.
Ander uitslae van die naweek: Young Hearts 22-20 Hopefield en Mamre 33-23 Velddrif.. Die naweek se bepalings is Saldanha teen Vredenburg, Young Hearts teen St. Helenabaai, Mamre teen Hopefield en Velddrif teen Paternoster. Piketberg en Langebaan het ’n loslootjie die naweek.




