Saldanhabaai is welbekend vir sy akwakultuur. Foto: Weslander-argief


’n Deel van die stigting en uitbreiding van die akwakultuursone in Saldanha-hawe behels die omgewingsmonitering van die baai.

Een só monitering is onlangs deur die omgewingspesialiste Anchor Environmental uitgevoer om die rif in die baai te bestudeer.

Volgens hul onlangse studie het die spesialiste bevind sowat 5 047 890 m² rif is in die Grootbaai, terwyl 29% van die rif binne die akwakultuursone is.

Die Saldanha-akwakultuursone is die grootste akwakultuursone in die land met die meeste van die land se mossels wat hier verbou word. Saam met oesters en forel word sowat 25 000 ton seekos in Saldanha se baai elke jaar hier verbou. Die sone is in 2018 amptelik gevestig met nadat die omgewingsmagtigingsproses reeds in 2016 begin is.

Navorsing gedurende 1970 het hierdie rif-gebied waar vinvisboerdery tans plaasvind, geïdentifiseer. Dr. Barry Clarke van Anchor het reeds by 2020 se State of the Bay-voorstelling verduidelik dit is effens kommerwekkend, “hoofsaaklik omdat die rifgebied geneig is om hoër biodiversiteit te huisves, bloot omdat dit skaarser is, asook die biodiversiteit wat daarmee geassosieer word”.

Volgens die jongste bevindinge stel die navorsers voor vinvis-akwakultuur moenie in die gebied by die rif bedryf word nie. Hulle stel voor die buitenste baai (Outer Bay) moet liewer gebruik word vir die verbouing van vinvis, aangesien vinvis ’n groter impak op die seebedding as die verbouing van mossels of oesters het.

Die navorsers het fotografie sowel as videografie gebruik om hul data te versamel en bevind gemeenskaps­diversiteit by die geaffekteerde rif-terreine is hoër as by die beheerterreine, wat daarop dui dat teen die huidige vlak van akwakultuurontwikkeling ’n balans bestaan tussen ontwrigting van mededinging en mortaliteit as gevolg van versteuring. Rifgebiede buite Big Bay het as beheerterreine dien.

Die studie vorm deel van die departement van bosbou, visserye en omgewing se moniteringsprogram.

Volgens die departement is die potensiaal van die sone om 25% van die werkloosheidsyfer binne die munisipale gebied te verminder. “Die verwagting is die toename in beleggings in die sone kan oor vyf jaar tot sowat R400 miljoen lei,” het Andrea Bernatzeder, direkteur van akwakultuurnavorsing en -ontwikkeling, reeds in 2020 verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article