Sy was ’n vrou, ’n ma, ’n vriendin en ’n geliefde sakevrou in die Weskus. Jolene Loubser Blom (61), eienaar van Blom Real Estate, is Vrydag (22 Maart) onverwags oorlede.

Blom is op 8 Mei 1962 gebore. Voordat sy die eiendomswêreld betree het, was sy lid van die Saldanha-speurtak tot 1999 met die rang van kaptein.

Sy het daarna Hugo en Loubser Eiendomme saam met ’n vennoot begin, maar het haar eie agentskap met die naam Saldanha Vredenburg Eiendomme in 2003 begin. Die naam is in 2015 na Blom Real Estate verander.

Volgens haar man, Jackie Blom, met wie sy 29 jaar saam was, was haar grootste passie die eiendomsbedryf en om die regte gesin in die regte woning te plaas.

“Dit was glad nie ongewoon vir haar om ’n huis oor die telefoon te verkoop sonder dat die voornemende kopers dit al besigtig het nie. Tot ons verbasing was die kopers altyd 100% tevrede. Sy het baie bekwame agente opgelei wat steeds aktief in die mark is,” vertel Jackie. “Met die groot stortvloed boodskappe van meegevoel uit die gemeenskap is dit duidelik dat sy diep spore getrap en ’n positiewe invloed nagelaat het by almal met wie sy in aanraking gekom het.”

Jackie voeg by haar optimisme gaan ’n groot leemte los. Wat hy die meeste van sy vrou gaan mis, is die liefde wat sy vir haar kinders gehad het, haar eerlike opinies en haar enorme dryfkrag.

Vir een van haar dogters, Tronell Bester, was Blom meer as net haar ma. “Sy was my beste vriendin, mentor en steunpilaar en ek gaan absoluut alles van haar mis.” Tronell beskryf haar ma as die mees doelgerigte, hardwerkende, oorpresterende en onbaatsugtige mens wat sy nog teëgekom het. “Sy was net liefde van kop tot toon.”

Wat Tronell altyd sal onthou, is die feit dat haar ma altyd een was wat lief was om geskenke, geld ensovoorts anoniem te los. “Sy het die minderbevoorregtes haar hele lewe lank gehelp en ook ’n passie vir diere gehad. Sy het die grond aanbid waarop haar kinders en kleinkinders geloop het.”

Blom is beskou as ’n vrou met baie wysheid en kon enige situasie in iets positiefs verander. “Ons voel verlore sonder haar, maar the show must go on! Dit is wat sy sou wou hê,” voeg Tronell, wat ook as eiendomsagent werk, by.

Blom laat haar man, Jackie, seun, Henri, en dogters, Tronell en Courtney, asook twee kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article