Om ’n entrepreneur te wees, is nie en sal nooit ’n werk van 09:00 tot 17:00 wees nie, maar die belonings kan verrykend wees.

Dít is die raad van Edwena Snyers, eienaar van Snyer Business Consulting (SBC). Deesdae is haar onderneming se tuiste in die Saldanhabaai-ontwikkelingsone (SBIDZ), maar die onderneming het vyf jaar gelede by haar woning begin.

’n Nuwe uitdaging vir ’n nuwe dekade

“Ek het 20 jaar by Transnet gewerk, maar het ander drome gehad. Ek het drome vir my 50-jarige of 60-jarige self gehad oor wat ek wou aanpak deur liewer my eie onderneming te bou,” verduidelik Snyer.

Haar besluit om haar eie onderneming te bedryf, het onder meer gespruit uit die voorbeeld van haar pa, wat self ’n entrepreneur was. Om jou eie baas te wees, is egter nie altyd maanskyn en rose nie, maar dit leer jou die belangrikheid om netwerke te bou en saam met ander sakelui te werk,” sê Snyer. “Om ’n bruin vrou aan die stuur van ’n sakeonderneming te wees, het sy uitdagings. Harde werk en ’n ondersteuningsnetwerk is van die belangrikste elemente om jou deur die moeiliker tye te dra.

“Ek het groepe vriende, almal sakemense, wat ek kan bel om net te gesels. Soms kla ons oor dinge, soms help hulle met struikelblokke en soms praat ons mekaar moed in.”

Haar man Francois speel ook ’n groot rol in haar sukses as sakevrou.

Weskus, ’n gebied vol geleenthede

Snyer meen die Weskus is een van die beste, hoewel mees uitdagende, gebiede om ’n sakeonderneming te bestuur. Dit is juis die uniekhede van die Weskus en sy mense wat haar ná haar studies na die streek terug gelok het. “Ek het die voorreg gehad om bemarking aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se sakeskool te studeer.

“Dit kan vir baie Weskussers uitdagend wees om te studeer. Jy moet wegtrek, en jy is dalk die eerste keer weg van jou familie, maar ek was gelukkig om danksy my studies so baie nuwe geleenthede te kry,” sê Snyer.

Benewens haar plaaslike studies het Snyer ook die geleentheid gehad om in Nederland te gaan studeer. Dié ervaring was uitdagend, sê sy, maar het haar ook geleer hoe om heeltemal onafhanklik te wees. “Met plaaslike ontwikkelings soos die SBIDZ moet ons jong mense begin gereed maak. Dit is maklik om slegs daarna te streef om vir een van die groot ondernemings hier te werk, maar daar is soveel meer as net dit.

“Hoekom moet mense uit ander provinsies of streke plaaslik aangestel word wanneer die Weskus talentvolle jongmense het? Die Weskus-ekonomie het ’n knou gekry met die sluiting van Saldanha Staal en baie ondernemings moes hul deure sluit. Indien jy dalk ’n gaping in die mark sien, begin sommer self daardie onderneming,” raai sy aan.

As huurder by die SBIDZ sien Snyer ook talle toekomstige geleenthede in die olie- en gas-bedryf sowel as die mariene-sektor wat hier op die Weskus-werksmag wag. “Ek wil dit uitbasuin so ver ek gaan – maak gereed; hier kom groot beleggings en groot geld, en ons as Weskussers kan nie meer toelaat dat dit na ander gaan nie.”

Hou aan om te streef vir meer en groei meer

Wat Snyer Business Consulting betref maak Snyer ook gereed vir beter en groter dinge. “Dit is nie maklik nie. Baiekeer ervaar ons hoe mense mekaar wil afbreek eerder as opbou, maar dit gaan ons nêrens bring nie,” meen sy.

SBC bied opleiding aan ander ondernemings en help ander entrepreneurs om hul ondernemings uit te brei en te groei. Vir Snyer beteken dit sy moet ook haar eie vaardighede gereeld uitbrei en opskerp. “Niemand weet alles nie, maar as entrepreneur moet jy altyd bereid wees om meer te leer. Indien jy ’n gebrek aan ’n diens of vaardigheid sien, moenie wag vir iemand anders nie en werk in daardie ruimte.”

Snyer het danksy dié uitkyk self weer die boeke nadergetrek. Sy bieg tussen studies, SBC en haar familie en 11-jarige seun het dit nie tyd vir baie ander dinge gelaat nie, maar meen om haar studies te voltooi, was ’n belegging in haar toekoms. Haar raad aan ander entrepreneurs, veral vroue, is om ook in hulself te belê en om deur struikelblokke vas te byt.

“Moenie verskoning maak vir wie jy is nie. Die Weskus en die sake-wêreld het meer sterk vroue nodig. Moenie terugstaan nie, hetsy dit in ’n vergadering of raadsaal is nie. Beweeg liewer deur die wêreld met bewussyn en bou mekaar op liewer as om af te breek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article