‘n Sakeman van St. Helenabaai is gisteraand vermoor.


‘n Sakeman van St. Helenabaai is gisteraand (14 Oktober) vermoor vermoedelik ná ‘n roof by die sakeonderneming skeefgeloop het. 

Bernie Pedro, mede-eienaar van BP Marine in St. Helenabaai se liggaam is vanoggend in die winkel ontdek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die voorval iewers ná 22:00 plaasgevind nadat Pedro se broer, die ander eienaar, reeds die perseel verlaat het. Helfrich sê Pedro is oorrompel. Die slagaar in sy regter bobeen is met ‘n mes raakgesteek en daar is ook verskeie steekwonde in sy rug gevind. Die polisie het bepaal dat skote ook op die perseel afgevuur is. Kringtelevisiekameras het twee verdagtes by die winkel afgeneem, maar die polisie vermoed dat ‘n derde verdagte betrokke kon wees.  Dit is onbekend of enige van die verdagtes beseer is voor hulle van die perseel af gevlug het.

Mense met inligting wat die ondersoek kan bespoedig, word vriendelik versoek om dit met die ondersoekbeampte te deel deur 082 469 5713 of die polisiekantoor by 022 736 8072 te skakel. Inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article