Die Velddrif-sakekamer se bestuur – Kim Pistor, Jean Paul Stuyk, Nicola Pieterse, Monté van der Westhuizen, Johnny da Silva, Jillian Tredoux en Stefan Kotze. Die nuutverkose lid, Christa Fourie, was afwesig toe die foto geneem is. Foto’s: Yaël Malgas


Sakelui van die Bergrivier is Donderdagaand by die Velddrif-sakekamer se prysuitdelingsgeleent­heid vir hul bydraes die afgelope jaar, by die Rivera-hotel, vereer.

Johnny da Silva, voorsitter van die sakekamer, het ook terugvoer aan lede gegee oor waarmee die sakekamer verlede jaar besig was. ’n Vergadering oor beurtkrag met die Weskus-distriksmunisipaliteit, sessies met sleutelspelers in die toerismesektor en netwerkgeleenthede by Freeport Saldanha (voorheen die SBIDZ) was net van die geleenthede wat die sakekamer namens hul lede bygewoon het.

Da Silva het gesê die beste manier vir plaaslike sakelui om suksesvol te wees, is om vinniger te dink en aan te pas.

Hy meen om vas te kyk in al die struikelblokke – beurtkrag en korrupsie – gaan niemand help nie. “Dit gaan nie help vir almal om individueel probleme op te los nie. Vir elke huishouding om sonkrag te kry, gaan byvoorbeeld nie die stelselprobleem met kragverskaffing oplos nie,” het Da Silva beklemtoon.

Hy het die sakekamer-lede aangespoor om groot te begin dink aan maniere wat tot grootskaalse oplossings kan lei.

Kol. Bossie Bostelman, bevelvoerder van die Laaiplek-polisie, het dieselfde sentiment gedeel. Hy het sakelui genooi om hom te kontak indien nodig en het meer verduidelik van die plaaslike polisiekantoor se onlangse suksesse.

“Ek het die gemeenskap agter my nodig om ’n verskil te maak. Ons kan slegs deur samewerking ’n daadwerklike verskil maak,” het hy verduidelik.

Johan Moolman, ’n raadslid, het die lede in sy spreekbeurt aangemoedig om “reg te maak vir wat oor die brug kom”.

Moolman meen plaaslike sakelui moet begin gereed maak vir moontlike geleenthede wat van buite die dorp gaan kom. “Ons kan dít wat Velddrif en die Bergrivier uniek en goed maak, behou en steeds ekonomiese belegging en ontwikkeling verwelkom.”

’n Spesiale toekenning is ook aan dr. Nico Vermeulen en Frank Stuyck, oorspronklike stigters van die sakekamer, oorhandig.

Pryse is onder meer vir die beste munisipale beampte of departement toegeken. Ondernemings in die toerismesektor en dienstesektor asook vervaardigers is vereer.

Die Eigevis-groep is as die wenner van die korporatiewe sektor aangewys. In die agri-sektor het die Kliphoekrivier-oord koning gekraai en Bergrivier Gutters was die topvervaardiger.

Elizabeth “Betsie” Fransa is vanjaar as die wenner in die afdeling vir openbare skakeling aangewys.

Dié wenners is met stemme gekies.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article