Jonathan Kilroe-Smith word “in hegtenis geneem” voor verbaasde en laggende vriende.Foto: Team Langebaan


Langebaners het hulle verlede Woensdag reggeskud vir ’n lekker skinderstorie of skandaal nadat Team Langebaan op Facebook aangekondig het die polisie op pad was om prominente sakelui in hegtenis te neem.

Die doemprofete en geniepsiges het egter op hul neus gekyk toe dit geblyk het dit kamma-inhegtenisnemings ten bate van Team Langebaan se geldinsamelingsveldtog is.

Volgens Dave Allan van Team Langebaan wou hulle wel geld insamel met dié inisiatief, maar ook die plaaslike sakeman Peter Jack vir die verf van die Langebaan-polisiekantoor bedank.

Die grootste impak moontlik is gemaak deur die “inhegtenisnemings” by openbare plekke te doen. So is Jonathan Kilroe-Smith in Marc’s Beach Bar “gevang”, en Jacques Germishuizen is in sy eie Spar voor verbaasde klante “in hegtenis geneem”. David Vorster is in Roxy’s Beach Bar “vasgetrek”.

Kilroe-Smith is die uitvoerende hoof van Club Mykonos, Germishuizen besit Spar Langebaan en Vorster is ’n bekende sakeman. Al drie ondersteun Team Langebaan deurlopend.

Die kamma-hof was volgens Allan skreeusnaaks.

Op Team Langebaan se Facebook-blad staan die aanklag teen die sakemanne duidelik – om te veel vreugde in Langebaan te versprei!

Ná ’n ondeunde verhoor was die uitspraak eenparig – skuldig aan te veel welwillendheid.

Nie net het die dorp ’n bietjie opwinding beleef nie, maar dié organisasie sonder winsoogmerk het met skenkings en die bydraes tot die sakemanne se “borgtog” altesaam R25 000 ingesamel.

Allan beskryf die afloop van die hele kamma-inhegtenisnemings as briljant.

Hy sê die geld gaan meestal vir hul voedingskema, die Feed the Need-projek, maar gaan gewis ook aan ander projekte bestee word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article