Die vooruitsig van ’n nuwe winkelstrook langs die Bergrivier-munisipaliteit se gebou in Voortrekkerstraat, Velddrif, is by die plaaslike sakekamer se jaarvergadering bekendgemaak.
Die voorsitter, Johnny da Silva, het dié moontlikheid op Donderdag 14 Maart voor honderd lede en gaste in ’n stampvol Soverby-lapa aangekondig.
Die huidige bestuurskomitee is oor ’n heerlike driegangmaal herverkies, nuwe sakeondernemings is bekendgestel en ondernemings en individue wat deur die jaar uitstaande diens gelewer het, is met trofeë beloon.
Da Silva het ook bekendgemaak dat ’n grondeienaarsbelastingbetalers-vereniging vanjaar gestig gaan word – ’n organisasie afsonderlik van die sakekamer. Hy het lede aangemoedig om aan te sluit omdat dié vereniging se werkinge met dié van die sakekamer gaan oorvleuel.
’n Kwessie wat al jare aankom, is ook weer bespreek: die swaarvragmotorverkeer waaronder inwoners van Velddrif en Dwarskersbos dag en nag gebuk gaan.
Da Silva het die dorp se mismoedigheid oor die probleem uitgespreek, want ten spyte van ’n vinnige paar dae se padblokkades, is niks verder aan die probleem gedoen nie.
Niks is ook steeds aan die probleme met die verkeerskruising by die brug, wat hoofbrekens besorg, gedoen nie. Da Silva het ’n oplossing vir dié probleem bepleit en verwys na leë beloftes oor die opgradering van die Carinus-brug.
Verder het Da Silva gesels oor die misdaadsituasie in die dorp en die gesamentlike bedryfsentrum ’n brug tussen die polisie, wetstoepassing en buurtwagte genoem. Hy het ook verwys na hoe vinnig meer as 6 000 stemme ingewin is vir ’n petisie teen borgtog ná die Aurora-plaasmoord.
Nog ’n hoogtepunt van die afgelope jaar is die uiteindelike aankoop van ’n omsetter vir die Laaiplek-polisiekantoor, wat moontlik gemaak is deur lede van die sakekamer en die polisie, wat naweke pannekoek gebak en verkoop het.
Die wenners in die onderskeie afdelings was: West Coast Village (kleinhandel), The Smart Health Clinic (dienslewering), Riviera Hotel (toerisme), Bergrivier Gutters (vervaardiging), Bianca du Toit (openbare skakeling), McNolan Plaatjes (munisipaliteit), Velddrif-buurtwag (polisie), Kliphoek-boerdery (landbou), Skillieland-kleuterskool (gemeenskapsbetrokkenheid) en die Eigevis-groep (ko-operatiewe sektor).





