Die Stompas Vikings (in pienk en blou) het blootstelling teen klubspanne gekry.


Tiensrugby is hier om te bly.

Só reken Liam Mahoney, organiseerder van die eerste Mayoral 10’s-toernooi, wat Saterdag (30 September) op die Vredenburg-sportterrein plaasgevind het.

Volgens Mahoney was die eerste toernooi meer van ’n sosiale affêre omdat die kode nie baie bekend in die streek is nie.

Hy sê ook die doel van die toernooi was om geld in te samel vir die West Coast Sharks, wat later vanjaar aan die Maleisië-toernooi gaan deelneem.

Die 10-man-kode is soortgelyk aan 7’s, met 10 spelers per span wat vir 10 minute per helfte speel.

Agt spanne het vir die wenprys van R5 000 meegeding. Die Southern Saints van St. Helenabaai het geskiedenis gemaak deur die eerste kampioene van die toernooi te word nadat hulle die span MMI van Vredenburg in die eindrondte met 14-7 geklop het. Die twee spanne wat die eindronde onoorwonne begin het, het mekaar goed opgekeil vir die titel.

Die Saints se toernooi het met ’n 0-0-gelykopuitslag teen Belhar begin, terwyl MMI die Stompas Vikings van Stompneusbaai met 22-14 geklop het.

Die groepwedstryde het nie bepaal wie na die volgende ronde deurgaan nie, omdat daar slegs agt spanne was en al die spanne dus in die uitspeelronde gespeel het.

Die Vikings moet spesiale vermelding kry omdat dié span nie juis uit klubspelers bestaan nie, sê hul afrigter, Vincent Roberts.

Hy het ook beklemtoon dat sy span deelgeneem het sodat hulle blootstelling kon kry. Sy jongste speler was slegs 16 jaar oud. Die span het ’n goeie oorwinning van 23-12 oor Majestics behaal, maar het in die kwarteindstryd 0-24 teen Vredenburg vasgeval.

Mahoney het die toernooi afgesluit deur te sê hulle sal gewis volgende jaar terug wees – dié keer beter en groter.

Wedstryduitslae:

Vredenburg 10-0 Southern Saints II; Belhar 0-0 Southern Saints; John Krewe 19-26 Majestics; MMI 22-14 Stompas Vikings; Belhar 7-7 Vredenburg RVC; Southern Saints 33-14 Southern Saints II; John Krewe 24-10 Stompas Vikings; MMI 19-14 Majestics; Belhar 22-14 Southern Saints II; Southern Saints 14-14 Vredenburg RVC; Majestics 12-23 Vikings; John Krewe 24-26 MMI.

Kwarteindstryd-uitslae:

Majestics 17-29 Southern Saints; Vredenburg RVC 24-0 Stompas Vikings; Belhar 22-19 John Krewe; Southern Saints 25-22 MMI.

Halfeindstryd: Southern Saints 15-12 Vredenburg RVC en Belhar 7-10 MMI.

Eindstryd:

Southern Saints 14-7 MMI.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article