Safcol het sy titel verdedig om as wenner van die Super 8-Paastoernooi weg te stap.Foto’s: Mark Ward


Safcol het Maandag geskiedenis gemaak toe hy die eerste span geword het wat sy titel in die Saldanha-Top-8-Paastoernooi suksesvol verdedig het.

Safcol, wat ook die verdedigende Boland-kampioen is, het Grootbrak in die eindstryd 20-10 geklop nadat hulle rustyd 3-10 agter was. Die kampioen, wat die eerste helfte met die wind in die gesig gespeel het, het in die tweede helfte gewys dat hy nie net appels kan pluk nie.

Safcol het reeds in die eerste minuut van die tweede helfte sake gelykgemaak met ’n verdoelde drie. Grootbrak het egter kort daarna die deur oopgegooi vir die kampioen toe twee spelers kort ná mekaar met geelkaarte van die veld gejaag is.

Zoey Naude, wat nie net die eerste vroueskeidsregter is wat haar buiging by die toernooi gemaak het nie, en ook só beïndruk het dat sy die eindstryd geblaas het, het geen drama van die spelers geduld nie.

Safcol, wat vir meer as 10 minute met 13 spelers gespeel het, kon dit egter nie uitbuit nie, maar het genoeg gedoen. Die appelboere het daarna weer ’n verdoelde drie behaal om weer die voortou te neem terwyl Grootbrak nie punte in die tweede helfte kon aanteken nie.

Safcol het reeds in sy openingswedstryd teen Velddrif gewys hy gaan nie maklik sy titel prysgee nie toe die span die wedstryd 58-36 gewen het. Die appelboere het daarna die gasheer, Saldanha, Saterdag getroef vir ’n plek in die eindstryd.

Velddrif het sy beste vir laaste gehou toe die span Maandag Barberton 62-12 vir die sewende plek afgeransel het. Saldanha, die gasheer, wat sy eerste wedstryd teen Gardens 14-11 gewen het, kon egter nie die wa teen Safcol in hul tweede wedstryd deur die drif trek nie en het 22-29 vasgeval. Saldanha het Maandag vir die derde plek teen Heidelberg 20-26 vasgeval en vierde geëindig met Velddrif in die sewende plek. Die finale stand van die toernooi is Safcol, Groot Brak, Helderberg, Saldanha, Gardens, Raiders, Velddrif en Barberton.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article