Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het die feesseisoen aan die Weskus amptelik met ’n eerste “Walk 4 Safety”-geleentheid ingelei.
Die onderste parkeerterrein by Weskus Mall was Saterdag (23 November) van vroeg af vol veiligheids- en sekerheidsinstellings en munisipale departemente se stalletjies en voertuie.
Die staptog van 2,4 km – van die sentrum tot by die Stone Ridge-sirkel by Builders en terug – het vroegoggend al oefen-entoesiaste en gesinne in hul helderkleurige sportuitrustings gelok.
Die verrigtinge is lewend gehou met die energieke begeleiding van die seremoniemeester Dudu Legoabe van die Wetenskapsentrum. Sy het in haar helder oranje tekkies en pienk pruik sommer almal aan ’n spontane groepsopwarmingsessie laat deelneem.
Verskeie van die sprekers het ook hul wense uitgespreek dat veiligheid die komende feestyd voorop inwoners en toeriste se gedagtes sal bly.
Die raadslid Michael Schaffers, wie se portefeulje ook openbare veiligheid insluit, meen dié geleentheid om die feestyd mee in te lui, is meer as net ’n feestelike bymekaarkoms. “Dit is ’n mylpaal in ons reis na die bou van ’n veiliger en meer gebonde gemeenskap.” Hy het gepleit dat mense nié weens roekelose en nalatige bestuur op die paaie die “fees”-tyd in ’n “rou”-tyd sal omskep nie.
Van die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte, die brandweer, wetstoepassing, ambulansdienste, sekerheidsmaatskappye en rampbestuur tot die Weskus Search & Rescue-span was by die dag betrokke en het ook saamgestap.
Dit is ook dié mense wat oor die feestyd eerste op misdaad- en ongelukstonele is om slagoffers by te staan.
Schaffers het spesiaal die gesinne van die veiligheids- en sekerheidsbeamptes bedank vir hul bereidwilligheid om hul tyd saam met geliefdes op feesdae op te offer om ander te kan help.
Medaljes, geskenkpakkies en water het by die eindpunt op deelnemers gewag.





