Die afgelope nuusweek is oorskadu deur die vloedskade ná swaar reënneerslae en stormsterkwinde, wat tot wydverspreide oorstromings in veral gebiede soos die Overberg, Kaapse Wynlande en die Breederivier-vallei gelei het. Ten spyte van vroeë waarskuwings en voorbereidings wat getref is om skade te probeer beperk, was die eindelike omvang van die storm iets wat baie min hulle kon indink.

Hier in die Weskus het ons relatief lig daarvan afgekom, maar ons ken moontlik mense wat of selfs in van die gebiede gestrand was of skade aan eiendom opgedoen het. Ons praat al die hele maand, met die oog op die Wêreldbekerrugby, oor hoe mense nader aan mekaar trek en as ’n nasie verenig ter ondersteuning van hul geliefde span in groen en goud. Die afgelope naweek se oorstromings het dieselfde effek teweeggebring toe mense saamgetrek het om geaffekteerdes te help en die wat gestrand is, te huisves.

Restaurante, kerksale en selfs individue het – sonder om twee keer te dink – hul deure oopgemaak om mense kos te gee en te huisves. Suid-Afrikaners weet hoe om saam te staan in tye van nood en ons is ’n veerkragtige nasie wat altyd terugbons wanneer ons uitdagings het, al is dit net met ’n bietjie humor en ’n helpende hand. Laat die gees van Ubuntu elke dag in ons harte voortleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article